Update
GEORGE NUUS - Die verwoeste gemeenskapsaal in Rosedale het inwoners van die plakkerskamp in dié area baie skade berokken.
'n Vergadering wat oor twee dae sou strek, Dinsdag en Woensdag, 14 tot 15 Junie, is tot verdere kennisgewing afgestel.
Verteenwoordigers van die provinsiale departement van menslike nedersettings sou ook die vergadering bywoon.
Inwoners wat behuisingsnavrae het, moet dit tans by die behuisingskantoor in Varingstraat telefonies of in persoon aanmeld, of die areakantoor in Pacaltsdorp vir munisipale klagtes of vrae, op die hoek van Mission- en Kerkstraat besoek. Skakel 044 803 9286.
Dit is nog nie duidelik wanneer die Rosedale-gemeenskapsaal weer sal heropen nie.
Dit volg na protesaksie deur inwoners van die plakkerskamp, wat ontevrede is met die manier waarop begunstigdes vir die nuwe behuisingsprojek in Reigerpark gekies word. Hulle is ook hoogs die josie in vir hul wyksraadslid, Melvin Roelfse.
Die gemeenskapsaal het in die slag gebly tydens hul protesaksie verlede Dinsdagaand 7 Junie.
Koste en dienste
Koste om die saal te herstel beloop R176 755. "Hierdie eis moet by ons ver-sekeringsverskaffers ingedien word en ons wag op terugvoer van hulle," het munisipale woordvoerder, Chantel Edwards, gesê.
Dienste wat by die saal gelewer is sluit in die rapportering van munisipale verwante klagtes, toegang tot inligting of navrae oor munisipale verwante finansiële sake (bv. rekeninge, eiendomsbelasting, tariewe, hulpbehoewende program, administratiewe ondersteuning aan wykskomiteestrukture) en behuisingswaglyste.
Volgens Edwards het George-munisipaliteit hul opname van die inwoners van Rosedale-plakkerskamp se individuele behoeftes grootliks voltooi, met die uitsondering van enkele inwoners wat nie tuis was nie.
"Ons sal teruggaan wanneer moontlik, maar moedig inwoners aan om die kantoor te kontak vir verdere inligting," het sy gesê.
Inwoners wat ontevrede is oor hul wyksraadslid kan hul klagtes aanmeld by die speaker van die raad, by 044 801 9111 of speakersec@george.gov.za.
Koste om die Rosedale-gemeenskapsaal te herstel beloop R176 755. Die saal het in die slag gebly tydens protesaksie verlede Dinsdagaand, 7 Junie.
Wat sê provinsie?
Volgens 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, Muneera Allie, het hul ondersoek getoon dat die meeste van die inwoners van Rosedale-plakkerskamp nie kwalifiseer vir behuisingsgeleenthede vir die ten volle gesubsidieerde huise nie (BNG-eenhede).
Van die inwoners se gesamentlike inkomste per maand is meer as R3 500, ander is of nie geregistreer op die behuisingsdatabasis nie, of hulle is minder as drie jaar gelede daarop geregistreer.
Die vergadering wat vandeesweek sou plaasvind, sou die gemeenskap inlig oor die relevante kriteria vir kwalifisering vir 'n BNG-eenheid, en ander opsies aanbied vir die wat meer as R3 500 per maand verdien.
Allie het gesê George-munisipaliteit sal hulle laat weet wanneer daar op 'n nuwe datum vir die vergadering besluit is.
Met heelwat van die huise wat onbewoon staan in Reigerpark, wonder inwoners van Rosedale-plakkerskamp voortdurend wanneer nuwe gesinne gaan intrek.
"Die vakante huise in Fase B2 is geskeduleer vir oorhandiging gedurende die volgende drie weke. Die huise wat deel vorm van Fase B3 sal in Augustus 2022 voltooi wees," het Allie gesê.
Ofskoon 'n ondersoek van provinsie blykbaar toon dat heelwat inwoners van Rosedale-plakkerskamp eers binne die laaste drie jaar op die behuisingswaglys geregistreer het, is daar ook diegene, soos Belinda Sambok, wat nou al vir 19 jaar wag.
Vorige artikel: Huisnood: PK fury boils over
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'