GEORGE NUUS - Nog 'n sterk jong man (29) van Mosselbaai is deur die polisie se kieserskorps eenkant geskuif tydens hul besoek aan die Suid-Kaap sowat twee weke gelede.
George Herald het vroeër berig oor Morné Mkwayi (22) van die Barbarians-rugbyklub, wat tydens 'n onlangse toetsing afgekeur is omdat sy middel glo te breed is.
Mkwayi beweer dat hy nie reg gemeet is nie en dat hy tydens 'n tweede toetsing - waarvoor hy genooi was - deur 'n offisier verneder is.
Na dié storie het nog 'n jong man wat werksaam is by 'n sekuriteitsfirma, na vore gekom en sy teleurstelling laat blyk.
Die man, wat anoniem wil bly omdat hy bang is vir viktimisasie, is die fiksheidstoets geweier omdat hy 'n tatoeëermerk aan die binnekant van sy linkerboarm het. Die tatoeëermerk lees: "Psalm 119:9" en verwys na die tipe lewenswyse wat 'n jong man moet nastreef. Die man is egter steeds vasbeslote om weer te probeer. "Ek word 30 vanjaar, so ek kry dalk my laaste kans in April," het hy gesê.
"Ek het nou 'n afspraak om die tattoo te laat verwyder. Sedert ek 25 is probeer ek inkom en vanjaar het ek seker gemaak ek is topfiks."
Volgens die man moes hy 'n vorm invul vir 'n "sigbare tatoeëermerk", alhoewel die offisiere die tatoeëermerk moes soek.
Psalm 119:9 "Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord."
"Van die suksesvolle kandidate het groot tattoos op hul bors. Dit gaan oor of dit onder die uniform uitsteek. Ek het egter 'n negatiewe gevoel van die offisier gekry. Ek het hom gevra of ek die tattoo kan laat verwyder en weer terugkom, maar hy het my nie juis geantwoord nie. Ek was in 'n toestand van skok. My vriende in die polisie kan nie glo ek is afgekeur nie. Dit was 'n baie negatiewe ervaring.
"Ek wou so graag 'n loopbaan in die polisie bou. 'n Week later het hulle vir my laat weet ek moet probeer om by Beaufort-Wes of Pinelands uit te kom, want daar is weer 'n fiksheidstoets, maar dit is ongelukkig nie so maklik nie.
"Dit is baie hartseer vir ons jong mense wat graag iets wil bereik."
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat beide aangeleenthede onder die aandag van hul hoofkantoor in Pretoria gebring is. Die polisie se nasionale tak is by die werwingsproses betrokke. Geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'