GEORGE RUGBYNUUS - 'n Jong rugbyspeler van Mosselbaai se droom om sy land as polisieman te dien is aan skerwe ná 'n voorval by die polisie se areakantoor in George waar hy glo deur 'n offisier met die tronk gedreig is. Dit nadat hy die vorige dag in Hartenbos "te dik" bevind is vir die mag.
Morné Mkwayi (22) van die Barbarians-rugbyklub het op 'n SMS-boodskap gereageer waarin hy genooi is om verlede Vrydag 'n evaluasie by die areakantoor te ondergaan.
Mkwayi is blykbaar net die vorige dag op Hartenbos getoets, maar het die toets gedop omdat sy middel 1cm groter was as die maksimum toelaatbare mate.
"Ek was baie bly toe ek nog 'n kans gekry het, en moes spesiaal reël vir 'n geleentheid na George," het Mkwayi gesê.
Volgens hom het die maatband in ieder geval nog 'n duimspasie speling om sy middel gehad. In George het Mkwayi in 'n ry saam met ander hoopvolles gewag toe 'n offisier hom na bewering uitgesonder en van bedrog beskuldig het.
"Hy het na my ID gekyk en gesê hy moet my eintlik toesluit want dit wat ek doen is bedrog," het Mkwayi gesê. "Hy het gesê ek het my kans in Hartenbos gehad."
Morné Mkwayi twee weke gelede (links) en in 2018 tydens 'n CPUT Varsity shield-wedstryd.
Volgens Mkwayi kon hy vasstel dat sommige aansoekers wel tweede SMS'e ontvang het, en hy het dit ook so aan die offisier genoem. Hy is ook van mening dat sy Xhosa-van die offisier omgekrap het, omdat dit nie strook met sy bruin gelaat nie.
"Ek kom uit 'n veelrassige familie, Mkwayi is werklik my van," het hy gesê.
Icosa se provinsiale leier, Dawid Kamfer, dink ook die polisie se optrede is te dik vir 'n daalder en het die saak met die Menseregtekommissie opgeneem. Hy het ook 'n skrywe aan genl.maj.
Oswald Reddy van die George-areakantoor gerig. Nog 'n voorval het aan die lig gekom na 'n Facebook-inskrywing van 'n pa wat gesê het sy dogter is ook op Hartenbos afgekeur omdat sy 'n tatoeëermerk op haar boarm het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat die aangeleentheid onder die aandag van hul hoofkantoor in Pretoria gebring is.
"Die persone wat by die werwing betrokke was ressorteer onder die polisie se nasionale tak. Ons het nog nie terugvoer ontvang nie," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'