Sensei Sors Grobbelaar van Scorpions Martial Arts Academy, wat die selfverdedigingsdeel van hul voorbereidingsprogram vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi behartig het, sê dat van die SAP-lede aanvanklik verbaas was omdat die tegnieke so basies voorkom. "Maar aan die einde van die week was hulle vuur en vlam en het my hartlik
bedank. Ek het hulle geleer hoe om met minimale moeite, energie en krag maksimum resultate met ‘n aanvaller te kry."
Grobbelaar meen dat dinge in ‘n konfliksituasie so vinnig gebeur dat jou verdedigingstegnieke reeds ingeoefen moet wees, want dan is daar nie meer tyd vir dink en wonder oor wat jou beste opsie is nie. "Ons begin met skoppe, houe, grepe en gooie en dit het gesorg vir baie lag en pyn!" skerts hy.
Grobbelaar is tevrede dat die deelnemers aan die einde van elke week met meer selfvertroue en motive-ring by hom weg is, reg om die booswigte in die samelewing ordentlik vas te vat en lag-lag in ‘n vangwa te kan gooi.
Verskillende groepe van verskeie polisiestasies in ons streek het weekliks van 27 Maart af vir opleiding by die polisiehoofkantoor in George kom aanmeld. Naas die selfverdediging het hulle ook van ‘n gesonde dieet en fiksheid ge-leer.
Kontak sensei Grobbelaar by 082 589 1763 vir meer inligting.

Twee kollegas demonstreer hoe selfs ‘n vrou ‘n nekgreep kan uitoefen waar nie net die lugweë nie, maar ook beide hoofslagare toegedruk word. Korrek uitgevoer, sal dit gewis selfs die sterkste opponent op sy knieë bring.