GEORGE NUUS - 'n Bekende oud-Kwagga Johan Botha, het nooit kon droom dat hy op Australiese televisie sou verskyn en oor die maanlanding van 1969 moes praat nie. Dit is presies wat onlangs met Botha van Hartenbos gebeur het, terwyl hy en sy vrou, Ista, by hul kinders in Adelaide, Australië gekuier het.
Botha het in 'n e-pos onderhoud met die George Herald meer vertel van die besondere geleentheid.
Volgens Botha woon hulle twee dogters en hul gesinne in Australië. Martie en haar man, Sott Zarcinas, woon reeds sedert 2002 daar. Hy is 'n Australiër. Sy is 'n mediese dokter en spesialiseer in trauma by die Adelaide-hospitaal. Scott was voorheen 'n pediater en is deesdae 'n motiveringspreker. Hulle het twee dogters, Zsa Zsa en Zenya.
Die ander dogter, Christa en haar man, Strauss Viljoen, het in 2015 na Australië geëmigreer. Sy is 'n geoktrooieerde rekenmeester en gee klas by die Universiteit van Suid-Australië. Strauss werk in bemarking. Hulle het 'n dogter, Anne en 'n seun, Nicolaas.
Botha-hulle het op 15 Junie daar aangekom en sal weer op 11 September terug wees by die huis.
Hy het vertel dat die uitsending op kanaal 23 van die Australian Broadcasting Corporation uitgesaai is.
"Met die oog op die destydse maanlanding is drie leerders gevra om onderhoude met hulle oupas of oumas te voer oor wat hulle onthou van 50 jaar gelede met die landing. Zenya, 'n gr. 6-leerder by East Adelaide Primary School moes met haar twee oupas so 'n onderhoud voer. Die ander oupa is Bernie Zarcinas.
"Omdat ek van Suid-Afrika kom en ons in 1969 nie televisie gehad het nie, was dit vir Australiërs baie interessant om te hoor van ons ervaring."
Botha het aan die kykers vertel dat hy destyds 27 jaar oud was en 'n onderwyser was by Laerskool Sentraal in Bloemfontein.
In die dae voor die landing was dit hoofnuus op die radio en in die koerante.
"Omdat daar in die vorige ruimtesending drie ruimtevaarders doodgebrand het, was almal maar baie onseker of dit suksesvol sou wees."
"Voor die radio moes ons maar ons verbeelding gebruik om te kon deel in die groot avontuur. Ons het letterlik ure voor die radio deurgebring."
Botha het ook aan die kykers vertel dat mense baie bly was toe dit suksesvol afgeloop het. "Ons was baie bly en dit was 'n ongelooflike prestasie. Daardie tyd was daar tussen die Russe en Amerikaners 'n groot kompetisie om die ruimte te verken en ons en die wêreld het dit gesien as 'n groot oorwinning vir die VSA."
By skole het leerlinge opstelle geskryf oor die maanlanding en in die kunsklas is prente daaroor geteken. Voorts is debatte in skole gehou oor wat die volgende prestasie in die ruimte sou wees. Daar is gespekuleer dat mense dalk na Mars sou reis. Seuns het ook hul eie maantuie probeer bou en speelgoedwinkels het goed sake gedoen met die verkoop van speelgoedmaantuie.
Botha het gesê die opname het sowat 20 minute geduur. Tydens die uitsending is met drie groepe onderhoude gevoer.
"Ek was maar lugtig veral oor die skielike Engelse opname hier in die vreemde land. Bernie is 'n wetenskaplike en kon veral praat oor die rotsformasies op die maan."
Humor was daar ook. "In die goeie boerehumor kon ek darem vir die TV-span vertel dat ons in die RSA nou geweet het daar is nie 'n man in die maan nie en die maan is nie van kaas van gemaak nie," het Botha gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'