Update
GEORGE NUUS - Weermaglegende genl. Jannie Geldenhuys (83) is vroeg Maandagoggend in die Jura Care Village-versorgingsoord in Hansmoeskraal by George oorlede. Sy vrou Marié en sy drie kinders was by hom ten tyde van sy dood.
Volgens familiewoordvoerder, Frans du Randt, het Geldenhuys die afgelope paar jaar aan Alzheimer se siekte gely. Hy het die laaste sewe maande van sy lewe by Jura Care deurgebring waar hy baie goed versorg is.
Geldenhuys is op 5 Februarie 1935 in Kroonstad in die Vrystaat gebore, en het in 1954 by die weermag aangesluit.
Hy was die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) vanaf 1985 tot 1990. "Generaal Geldenhuys sal onthou word as die weermaghoof in wie se termyn Suid-Afrika se geskiedenis rigtinggewend verander het.
In sy ampstermyn was die land deur enorme konflik gekenmerk - intern en ekstern. As hoof van die SA Weermag het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt," sê Du Randt.
Volgens Du Randt het Geldenhuys se gesondheid 'n afwaartse kurwe getoon waarna die familie besluit het om hom van Pretoria na Jura Care te bring waar hy onder voltydse sorg sou wees.
"Marié was van meet af aan beïndruk met die deernis en waardigheid waarmee die pasiënte daar behandel word. Sy kon duidelik sien dat haar man daar berusting gevind het. Sy het haar opregte waardering aan Malene en Johan van Niekerk asook die res van die Jura Care-span vir die besondere sorgsame wyse waarop daar na haar man omgesien is, uitgespreek."
Oud-generaal Jannie Geldenhuys is Maandagoggend in die Jura Care Village-versorgingsoord oorlede.
Genl.maj. Roland de Vries, wat in 1999 as adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër uitgetree het sê Geldenhuys was 'n generaal wat voor in die linie was en dikwels in gevegsvoertuie saam in Angola aan gevegte deelgeneem het.
"Hy het geweldige onderskraging gebied, maar sou nooit inmeng in die proses nie. Hy was 'n ongelooflike mens en 'n baie goeie leier vir sy soldate vir wie hulle matelose respek gehad het. Hy was nederig en toeganklik en iemand met wie 'n mens kon gesels," het De Vries aan die George Herald gesê.
Geldenhuys word oorleef deur sy vrou Marié, dogter Annamarié, seun Bruwer, dogter Lollie, skoonseun Steyn van Niekerk en hulle enigste kleinkind, Harper-Martin. Hy word veras tydens 'n privaat geleentheid. 'n Gedenkdiens sal volgende Donderdag 20 September om 10:00 in die NG kerk Pretoria-Oos gehou word.
Die Geldenhuys-egpaar het hul oudste seun, maj. Harper Martin Geldenhuys (26) in 1991 in 'n fratsongeluk by Pomfret verloor toe hy deur 'n Dakota-vliegtuig wat besig was om op te styg, getref is.
Hy was aan die voormalige 32 Bataljon verbonde en was besig met 'n video-opname toe die voorval plaasgevind het.
Lees 'n vorige artikel hier: Retired defence force leader dies
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'