GEORGE NUUS - Vir weke het hulle jou met behulp van plakkate van die lamppale genooi om vir hulle te stem. Nou moet hulle dit binne dae afhaal. Dit is die werk wat wag vir verteenwoordigers van politieke partye en kandidate.
Daar is streng munisipale regulasies wat die aanbring en afhaal van plakkate reguleer. Mense wat dit aanbring onderneem skriftelik om dit na te kom.
Luidens inligting wat deur die George-munisipaliteit beskikbaar gestel is, bepaal dit onder meer dat elke persoon wat beoog om 'n plakkaat te laat aanbring, 'n deposito van R3 512 vir verkiesingsdoeleindes betaal as waarborg dat die plakkate deur of namens hom aangebring, voor of op die vierde weeksdag ná die dag van die verkiesing verwyder sal word.
Die verkiesing was Maandag 1 November. Dit beteken al die plakkate moet teen Saterdag af wees.
Die deposito sal alleenlik terugbetaal word nadat die terugbetaling daarvan deur die senior bestuurder: korporatiewe dienste gemagtig is.
Indien 'n persoon versuim om al die plakkate deur hom/haar aangebring, te verwyder, sal hy/sy die deposito of 'n gedeelte daarvan, afhangende van die koste verbonde aan die verwydering daarvan verbeur.
Van die plakkate wat tydens die verkiesing aangebring is.
Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'