Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Al het die winkel van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George sy deure gesluit, is alles nie verlore nie. Die kunstenaars van die instansie sal voortgaan om te skilder en afdrukke te verkoop.
Patrick Botto van die organisasie het Maandag 16 Oktober bevestig dat die winkel sy deure aan die einde van September gesluit het.
Botto het gesê die winkel was, voordat dit na George geskuif het, in Kempton Park, Gauteng. Dis die laaste paar jaar hier vanuit George bedryf.
Die hoofstroom van inkomste was produkte wat op 'n posbesteldiens-stelsel beskik-baargestel is.
Die winkel het as 'n agent vir die kunstenaars opgetree. Benewens die skilderye en afdrukke het hulle ook geskenke soos kussings en horlosies te koop aangebied. Die produkte was baie gewild.
Volgens Botto het verskeie faktore 'n rol gespeel in die sluiting. Dit sluit Covid in wat die bedrywighede geraak het en ook die uitdagings by die Suid-Afrikaanse poskantoor.
Hy het gesê die winkel in George het 'n belangrike rol gespeel om die organisasie en kunstenaars blootstelling te gee en van hul produkte te verkoop.
Die poskantoor het in die verlede baie goeie diens gelewer, maar die afgelope tyd het uitdagings toegeneem om byvoorbeeld die produkte by mense te kry.
Om van gewone koerierdienste gebruik te maak is baie duur.
Die produkte wat oorbly sal in November by 'n stalletjie by die Garden Route Mall en later by die Kersmark in George te koop aangebied word. Al die produkte moet verkoop word.
Die fokus sal in 2024 verskuif. Die kunstenaars se skilderye en afdrukke sal dan by markte en uitstallings verkoop word.
Botto het gesê dis baie hartseer. Nie net vir hom nie, maar ook vir die ander 26 kunstenaars wat betrokke is.
"Dis my brood en botter."
Hy het benadruk daar is lig in die tonnel. "Ons gaan nie ophou skilder nie."
Patrick se eie pad
Botto is een van Suid-Afrika se bekendste mondskilders en 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders.
Dis 'n lang pad wat hy geloop het voordat hy begin skilder het.
Op 12 November 1993 het sy lewe vir altyd verander. Hy was in 'n motorongeluk betrokke en het sy nek gebreek.
Later het hy met groot sukses met sy mond begin skilder.
VIDEO - Patrick Botto oor winkel van die Mond-en Voetskildersvereniging in George wat gesluit het.
Video: Eugene Gunning
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’