Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Lang gekoesterde ideal, om Suid-Afrika se nasionale blom, die protea te skilder het 'n werklikheid vir Patrick Botto van die Vereniging van Mond- en Voetskilders geword.
Hy was Maandag 28 Augustus druk besig om die finale afronding van sy skildery van proteas te doen wat hy van voorneme is om dit Dinsdag 5 Sep-tember bekend te stel om saam te val met Internasionale Mond en Voetskildersdag. Dit sal plaasvind in die kunsdeel van die George-museum langs die George-biblioteek.
Hy sal daar wees tussen 09:00 en 12:00 en mense sal ook die geleentheid kry om eerstehands te sien hoe gaan hy te werk om skilderye met sy mond te skilder.
Volgens Botto word die dag jaarliks gehou om bewusmaking te skep oor hierdie unieke manier van kuns, maar ook om die kunstenaars aan die wêreld bekend te stel.
"Reg oor die wêreld sal die mond en voetskilders demonstrasies hou van hulle unieke manier van skilder. Gedurende hierdie tyd hou hulle baie verskillende onderhoude op radio en TV, kunsdemonstrasies en is beskikbaar op sosiale media. Gedurende hierdie tyd wys en vertel die kunstenaars hul storie en persoonlike ervaring van wat die Mond en Voetskilder Vereniging (MVSV) vir hulle as kunstenaars beteken sowel as die impak wat dit op hul lewens het.
Patrick Botto met sy skilderye van 'n Nguni-bees en proteas. Foto's: Eugene Gunning
"Ons is ongeveer 'n 850 kunstenaars wêreldwyd wat behoort aan die Vereniging van Mond- en Voetskilders. Die kunstenaars maak gebruik van hul mond of voet om te skilder as gevolg van een of ander siekte of gestremdheid. Die doel van die Vereniging van Mond- en Voetskilders is om die kunstenaars se gehalte van werk en lewens standaard te verhoog.
"Die MVSV het al baie mense se lewens verander en aangeraak. Vir my persoonlik het ek die voorreg gehad om my eie huisie te kon koop. Ek kon 'n rolstoel vriendelike voertuig aanskaf en ek skep tans werk vir drie persone."
Botto het gesê dit gaan deesdae baie beter met die kunstenaars. Die kunstenaars is meer georganiseerd. Hulle is toegewyd en bereid om te help."
Hy het gesê dis 'n groot uitdaging om met jou mond te skilder. In aanloop tot die nasionale dag is hy besig met verskeie skilderye waaronder dié van die proteas. Hy is ook besig met 'n skildery van 'n Nguni-bees en hoenders. Dit is ook die eerste keer dat hy sulke diere skilder.
"Elke skildery is anders en praat anders met jou. Om die proteas te skilder is 'n groot uitdaging gewees. Ek wou dit besonders maak want dis ons nasionale blom."
VIDEO - Internasionale Mond-en-voetskildersdag by George museum gevier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’