Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Bring 'n rukkie in 'n rolstoel deur en sien die uitdagings waarmee rolstoelgebruikers elke dag te doen kry.
Dit is die uitdaging wat Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George, aan mense rig wat nie gestremd is nie.
Dit is alles deel van bewusmaking om saam te val met Internasionale Mond- en Voetskilderdag wat op Maandag 5 September gevier word.
Volgens Botto is dit vanjaar die 38ste herdenking van die organisasie se stigter, Arnulf Erich Stegmann, se dood.
"Deur Internasionale Mond- en Voetskildersdag te vier erken ons kunstenaars regoor die wêreld die wonderlike eienskappe en prestasies van Arnulf Erich Stegmann.
"Die dag van aksie is om bewusmaking te skep oor hierdie unieke manier van kuns. Regoor die wêreld sal die mond- en voetskilders demonstrasies hou van hulle unieke manier van skilder.
"Gedurende hierdie tyd hou ons baie verskillende onderhoude, demonstrasies en ons is beskikbaar op sosiale media. Gedurende die tyd wys en vertel die kunstenaars van hul persoonlike ervaring oor wat die Vereniging van Mond- en Voetskilders vir ons as kunstenaars beteken sowel as die impak wat dit op ons lewens het."
"Ons is ongeveer 1 000 kunstenaars wêreldwyd wat behoort aan die Vereniging van Mond- en Voetskilders. Die kunstenaars maak gebruik van hul mond of 'n voet om te skilder."
Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George, Foto: Eugene Gunning
Volgens hom is die doel van die vereniging om die kunstenaars se gehalte van werk en lewen-standaard te verhoog.
"Die MVSV het al baie mense se lewens verander en aangeraak. Ek persoonlik het die voorreg gehad om my eie huisie te kon koop. Ek kon 'n rolstoelvriendelike motor aanskaf en ek kon werk skep vir drie persone."
Hy het gesê ofskoon daar sensitiwiteit is vir die behoefte van gestremdes is daar nog uitdagings. As mense dit eerstehands wil beleef, moet hulle net 'n paar uur in 'n rolstoel deurbring.
Mense kan hulle help deur die MVSV te ondersteun. Hulle kan hul naam en adres vir die kantoor gee.
VIDEO:
Hulle sal dan een keer per jaar 'n pakkie ontvang en daarvoor betaal. In die pakkie is: 'n kalender, kaartjies met hul koeverte, notaboekies, brosjures en ander geskenkies.
Een van die kunstenaars se oorspronklike skilderye kan gekoop word en/of 'n donasie kan enige tyd gemaak word.
Enigiemand wat meer wil weet van die Vereniging van Mond- en Voetskilders kan 044 873 4584 skakel.
Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George, by een van sy skilderye.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'