Dit was die boodskap van majoor Sharon Jeptha, die adjunk- provinsiale kommissaris van die polisie en twee polisiemanne van Men for Change, brig. André Lincolm en a.o. Andries Douglas.
Met brullende motorfietse het hulle George verlede Woensdag besoek as deel van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.
Men for Change is 'n organisasie binne die polisie wat hulle beywer om onder andere 'n verskil te maak in die stryd teen die geweld teen vroue en kinders. Die organisasie se hoof-fokusareas is om 'n impak te maak op die diens en lewe van polisiemanne, polisiemoorde, asook polisiemanne se gesondheid, lewenstyl en huishoudelike sake.
Met hul aankoms in George het die twee polisiemanne reeds 2 500 km van hul beoogde 5 000 km afgelê nadat hulle sedert die begin van die veldtog in November reeds verskeie dorpe in die provinsie besoek het om vroue, kinders en polisiemanne te bemagtig en te inspireer.
Brig. Lincoln het gesê enige vorm van mishandeling is verkeerd en moet nie geduld word nie, ook nie finansiële mishandeling nie. "Ons het nie meer programme nodig vir vroue en kinders nie, ons benodig programme vir mans. Pa's en mans se afwesigheid is hoekom daar so baie jeugmisdadigers is," het hy gesê.
A.o. Douglas het 'n kort praktiese selfverdedigingsles vir die leerders van laerskole aangebied waarby hy twee verdedigingstegnieke verduidelik het, naamlik die "Haai, koebaai" en die "Haai, gryp, draai en ruk", wyses waarmee die leerders baie goed bekend is na die praktiese voorstelling en oefening.
'n Slagoffer van gesinsgeweld, me. Ronel Monie van Blanco, 'n ma van drie wat self mishandeling in 'n verhouding ervaar het, het ook getuig oor hoe sy uit dié verhouding ontsnap het. Volgens haar het die polisiebeampte wat aan diens was toe sy die eerste keer gaan kla het, haar nie die nodige hulp en ondersteuning gegee nie, maar het hy haar oorreed om nie 'n klag teen haar mishandelaar te lê nie weens die nadelige gevolge wat dit sou hê.
Maj.-gen. Jephta het hard ingeklim onder polisiemanne en gesê hulle moet 'n ordentlike diens aan gemeenskappe lewer.
"Ons (polisie) is daar geplaas om 'n diens aan die gemeenskap te lewer, om die lede van die gemeenskap te beskerm en om 'n beter lewe vir die gemeenskap te bewerkstellig.
"Klaers moet terugvoering kry op klagtes binne 48 uur. Ek weet ook van die leemtes wat daar in die polisiediens is, want daar is lede wat dink hulle is verhewe bo die gereg. Vir hulle is daar nie plek in die diens nie. As julle (polisie) nie hier is om te werk nie, verlaat dan die diens."
Sy het polisiemanne ook versoek om hul lewens tuis in orde te kry want "as jou gesins-lewe nie in orde is nie, kan jy nie onpartydig met gesinsgeweldklagtes werk nie".
Sy meen ook dat ouers wat nie meer hul rolle in die gesin ken nie, bydra tot die sosiale probleme in die samelewing. Sy het gevra dat alle ouers hul rol as ouer moet vervul en die nodige verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan aanvaar.
Sy het alle polisiemanne uitgedaag om ander mans tot inkeer te bring en die wrede sirkel van geweld te breek.
* Die polisie het verlede Woensdagaand ook 'n publieke vergadering (Imbizo) met inwoners in die George-gemeenskapsaal gehad waar probleme met die 10111-nommer weer geopper is. Die bekwaamheid van junior polisiebeamptes is deur inwoners be-vraagteken asook 'n tekort aan mannekrag in die polisie. Maj.gen. Jeptha het gesê hulle sal probleme met die noodnommer opvolg.
Oor die tekort aan polisiemanne het sy gesê dat die Suid-Kaap bevoorreg is want die stasies hier het nie regtig 'n tekort nie. "Daar moet eerder na die effektiewe werks-wyses van lede gekyk word."

Daar was ook 'n deur tot deur-veldtog in Parkdene en Conville waartydens slagoffers van geweld blomme van die polisie ontvang het. Hier staan Gwendolene Davidson saam met maj.gen. Jeptha en brig. Lincoln

Senior polisiebeamptes tydens die byeenkoms.
(Artikel deur Grazelde Meyer (19) van Pacaltsdorp. Sy is 'n BA Taal en Kultuur eerstejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua en het verlede week skaduwerk by die George Herald gedoen.)