Aan die woord is Nelson Kamfer, een van nege mans wat deelneem aan die 'A Few Good Men'-kursus in Karatara.
"Nelson sê nuwe moed is nodig - werk is skaars in die Suid-Kaap. En as jy nog diep in die platteland bly - hier is geleenthede nóg skaarser en geen openbare vervoer nie - is dit baie maklik om te dink die wêreld is teen 'n mens. Ek het al sterk manne gesien moedeloos raak en moed opgee," sê Heidi Sonnekus, projekbestuurder en die persoon wat die behoefte raakgesien en die kursus ontwikkel het.
"Die wanhoop van werklose mense in my grootwordplek het my aangegryp vandat ek teruggetrek het hiernatoe vanuit Johannesburg vyf jaar gelede. Ek het internasionale befondsing begin soek. Ek het geweet hier plaaslik gaan ons nie borgskap vir so 'n intervensie kry nie."
Masithandane, 'n nie-regeringsorganisasie in Sedgefield, het die program onder hulle vlerk geneem en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het die projek goedgekeur. Gemeenskapswerker Tina Sambok en Heidi Sonnekus het van huis tot huis gegaan om manne te werf. "Ons is nou al van Januarie af aan die gang, en dit gaan baie goed."
Mikpunte
Die kursus mik om in die eerste plek primêre MIV-intervensie te wees, om mense se denkwyse oor hoë-risiko gedrag wat tot MIV kan lei, te kan herken en te vermy. Maar die regte besluite kom makliker as mens 'n vaste inkomste en selfwaarde het. "Dus mik ons kursus daarna om die manne meer aantreklik te maak vir werknemers - deur eerstens hul veiligheidsvaardighede op te skerp. Ons het hulle opgelei in noodhulp, brandbestryding en die hantering van MIV in die werkplek."
Johan van Wyk van Global Emergency Technologies in Pretoria wat hierdie deel van die kursus kom aanbied het, is vol lof vir die Karatara-manne: "Ons het ons uitkomste blitsig bereik: die ouens was gretig om te leer en het baie ingesit. Dit was 'n voorreg om deel te wees van hierdie projek."
Van Wyk het die parate Sedgefield Brandweer as hulp gehad met praktiese opleiding.
Persoonlike ontwikkeling
"A Few Good Men" het ook 'n komponent wat aandag gee aan persoonlike ontwikkeling en realistiese verwagtings. "Die wêreld skuld mens niks, werk gaan nie om die hoek aangestap kom terwyl jy op die bed lê en wag nie. En as mens werk het in 'n ekonomies dooie gebied, moet mens hou wat jy het: jou werk koester en oppas en met 'n positiewe houding werk toe gaan," sê Sonnekus.
Sy sê die meeste van die kursusgangers het nog nooit 'n CV gehad nie, en het ook nie verstaan hoekom een nodig is nie. "Dis verstommend om te sien hoe daardie stukkie papier die manne laat blom. Dit word 'n bewys van hul waarde as mense."
Die kursus het ook ingesluit psigo-sosiale vaardighede en 'n hele reeks persoonlikheidsontwikkelingsklasse, baie daarvan gerig op gesonde seksualiteit en hoe om seksuele krisisse in hul gemeenskappe - soos verkragting en die misbruik van kinders - te herken, te besef hulp is nodig en te weet waar om hulp te gaan soek.
Stokperdjies vir geld
Maar seker die gewildste komponent was die aanleer van 'n vaardigheid: 'n stokperdjie wat dalk geld kan help inbring. In hierdie geval het hulle 'n aantal tekstielverftegnieke geleer.
"Die manne het op dag een 'n hemp gekleur in regte 60's-styl. Hierdie kenmerkende hemde het hul kursushemde geword. Daarna het 'n wilde kriekethoed en kleurvolle pet gevolg. Die hele idee hieragter is dat die kledingstuk aandag sou trek en die kursusganger dan 'n opening gee om te vertel van wat hulle geleer het," vertel Sonnekus. Die laaste groot uitdaging was die verf van 'n deken - 'n yslike uitdaging vir beginners.
"Die manne woon in arm gemeenskappe waar T-hemde en hoede gesog is. Maar dis nie net mode-items nie: die produkte is ook baie taktiele herinneringe aan die positiewe boodskappe van die kursus, sou een van hulle in die nabye toekoms dalk nog sukkel met werk en wil moed opgee."
Die manne se kunswerk is helder en vrolik en vol positiewe boodskappe soos "mik hoog", "bid" en "wees bly". Vir die meeste van hulle was dié klasse die eerste geleentheid ooit om 'n kunstenaarsiel 'n bietjie lug te gee. "Dis verblydend om te sien hoeveel talent daar in die boendoes weggesteek is," sê Sonnekus.
Die manne is almal eens dat die kursus hul lewens verryk het. Oom Johnnie Olivier (58) het dit so geniet dat hy soms plat op die grond gesit en verf het, ouderdom en kunsbeen ten spyt.
Otto Pietersen is op 16 die jongste deelnemer en is baie trots op sy nuwe CV en sy T-hemp. "Ek kan nie glo wat ek alles geleer het en hoe lekker dit was nie. Ek het gedink dit gaan net klas-klas-klas wees - maar dit het meer soos speel gevoel." Hy kan nie glo dat hy sommer drie sertifikate, 'n CV en 'n getuigskrif ryker gaan wees aan die einde van die kursus nie.
Navrae oor die kursus kan gerig word aan Heidi Sonnekus by 073 160 0802.
.jpg)
AFGM Hatmen voor...
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS