Update
GEORGE NUUS - Jonathan Claassen is Dinsdag 27 Maart in die rondgaande hooggeregshof in Knysna, tot 25 jaar tronkstraf vir die moord van Isabella Kruger (77) in die Kraaibosch Country Estate in George, gevonnis.
Hy het skuld beken op die aanklagte dat hy by Kruger se huis ingebreek het, haar besteel en vermoor het en is skuldig bevind op ‘n aanklag van huisbraak met die doel om te steel, roof met verswarende omstandighede en moord nadat hy ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het.
Die vonnis
Claassen is tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis op die aanklag van huisbraak met die doel om te steel, tien jaar op die aanklag van roof met verswarende omstandighede en 25 jaar op die aanklag van moord. Die hof het beslis dat die vonnisse samelopend uitgedien sal word. Claassen sal dus altesaam 25 jaar tronkstraf uitdien.
Volgens die woordvoerder van die direkteur van openbare vervolgings (DOV), Eric Ntabazalila, het Claassen erken dat hy in die vroeë oggendure van 18 Maart 2017 by Kruger se huis in Kraaibosch ingebreek het. Hy het vroeër gedrink en was onder die invloed van tik tydens die voorval.
Kruger was alleen in die huis omdat haar man, Pieter Kruger, in die tehuis oorkant die straat gewoon het. Hulle het twee maande voor die voorval van Pretoria na George verhuis.
In die huis het hy haar skootrekenaar gevind waarna hy na haar slaapkamer gegaan het.
“Ek het haar handsak en ‘n boks vol goue items gevind. Ek het ook die selfoon langs haar bed gesien,” het hy gesê.
Kruger het wakker geword en Claassen het gedink sy gaan begin skree. “Sy het wakker geword en regop gesit. Ek het gedink sy gaan begin skree. Ek het haar om die nek gegryp en ons het begin stoei. My arm was om haar nek en ons het geval.
Sy het haar kop gestamp. Sy het baie stil geword. Ek het die gesteelde goed in ‘n plastieksak gedruk en is daar weg,” het Claassen aan die hof vertel.
Hy het daarna teruggekeer om haar te probeer by bring. “Ek het haar beweeg, maar daar was nie reaksie nie.”
Hierna het Claassen die slagoffer na die badkamer geneem en haar in die bad gesit en die water begin intap. “Ek het seker ‘n halfuur gesukkel om haar by te bring toe ek besef dat sy moontlik dood is.”
Claassen het Kruger se motor, ‘n Honda Jazz, gevat en na Wildernishoogte gery waar hy die gesteelde items in ‘n bos weggesteek het. Hy het op die Saasveldpad ‘n ongeluk gehad en die motor op die toneel gelos.
Kruger se dogter het op haar liggaam afgekom.
Die Suid-Kaapse polisie woordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het gesê die ondersoekspan het inligting ontvang van ‘n verdagte wat in Kruger se motor opgemerk is en toe later weer in ‘n ander voertuig gesien is. “Die polisie het dié voertuig opgespoor en voorgekeer. Die motor is deursoek en goedoere wat vermoedelik uit Kruger se huis gesteel is, is in die motor gevind,”het hy gesê.
Claassen is kort daarna in hegtenis geneem.
Lees vorige artikels:
- Kraaibosch-moord: Saak na Hooggeregshof
- Update on Kraaibosch murder
- Kraaibosch murder: Case postponed
- Murder suspect 'best worker'
- Senseless murder shakes Kraaibosch
- Kraaibosch murder: Latest update
- Kraaibosch murder: Case postponed
- Latest update: Kraaibosch murder
- Opvolg: Kraaibosch-moord
- Kraaibosch-moord: 2 Verdagtes vas
- Moord: Bejaarde vrou in bad water gevind
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'