Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die oprigting van die sentrum vir hawelose persone aan die onderpunt van Markstraat, Ithemba Place of Hope, vorder heel fluks.
"Dinge het middel-Januarie op dreef gekom met die samevoeging van die huise waaraan ons oor Desember gewerk het," het André Olivier, bestuurder van Cremhog*, gesê.
"Tans het ons vier slaaplokale, die kombuis en kantoor opgerig. Binne die volgende tien dae behoort ons ook die ablusiegeriewe op te rig. Uit die aard van die saak is daar nog baie afrondingswerk nodig, maar ons is baie opgewonde dat daar reeds soveel van ons fasiliteit staan. Dit is 'n sigbare teken van die projek se vordering.
"Ons is op skedule om voor die ergste winterkoue operasioneel te wees. Ons wil ons eerste twintig mense teen Mei akkommodeer. Ons gebruik reeds van ons hawelose persone om ons op die terrein te help.
"Van hulle is reeds nie meer op straat nie, maar het ander akkommodasie gevind met die inkomste wat hulle genereer."
Die sentrum wil teen Mei hul eerste kliënte akkommodeer.
Cremhog vra die publiek om hierdie projek te ondersteun en te help om dit 'n volkome sukses te maak.
"Ons het drie projekte waarmee die publiek kan help," het Olivier gesê. Die een projek se naam is 'Borg 'n sinkplaat'. Dit sal help om die dakke van die fasiliteite klaar te maak en die gesamentlike leef- eet- en opleidingslokaal af te rond met dakbedekking. Dit kos R500 per sinkplaat.
Die tweede projek word genoem 'Borg 'n bed'. Borge gee 'n maandelikse bedrag van R500, R750 of R1 000 vir ses maande. Hierdie geld word ingespan om een persoon vir ses maande by die sentrum te huisves met alle dienste wat hulle nodig het.
VERSKAFDE VIDEO:
Hiermee saam word daar 'n plan opgetrek vir die individu wat hom/haar sal help om van die straat af te kom en 'n nuwe lewe te begin.
'n Slaaplokaal op die perseel van die sentrum vir haweloses.
Die derde projek is gefokus op hulp aan haweloses wat al vir langer as drie jaar op straat is. Kontakbesonderhede en inligting oor sulke individue kan aan Olivier gestuur word. Hierdie inligting sal help om 'n kortlys op te stel van potensiële kliënte.
Die sentrum benodig verder hulp met toerusting in die badkamers en kombuis, soos toilette, wasbakke, kombuiskaste en 'n gasstoof. Kontak Olivier by 082 551 8900 of stuur 'n epos na andre.olivier1962@gmail.com
Perspektief: 'n Uitsig oor die bouery vanuit 'n slaaplokaal se muur.
* Die organisasie, Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George (Cremhog) beywer hulle reeds vir jare oor die welsyn van die haweloses in George.
Vorige arikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'