GEORGE NUUS - 'n Organisasie wat gemoeid is met die nood van die haweloses, Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George), het verlede Vrydag, 21 Oktober, die goeie nuus ontvang dat hul planne vir 'n sosiale rehabilitasie-sentrum goedgekeur is.
"Binne die volgende paar weke sal ons met voorbereidings vir konstruksie begin en vroeg in 2023 sal die finale oprigting plaasvind," het André Olivier, Cremhog se algemene bestuurder, gesê.
"Die sentrum is nou 'n realiteit en sal vroeg in 2023 reeds begin om 'n impak te maak op die lewe van hawelose persone in George."
Cremhog het einde November 2021 'n huurooreenkoms met George-munisipaliteit onderteken vir 'n stuk grond aan die onderpunt van Markstraat waar die sentrum opgerig sal word. Dit sal beskik oor ablusiegeriewe en slaaplokale en maaltye sal verskaf word.
"'n Primêre funksie van die sentrum is om maatskaplike dienste aan te bied en inwoners in te skakel by 'n sosiale herintegrasieprogram. Hulle sal blootstelling kry aan vaardighede en ekonomies aktiwiteite. Die doel is om 50 mense per jaar van die straatlewe weg te lei."
Cremhog nooi die gemeenskap, sakemense, weldoeners, kerke en donateurs uit om met hulle in vennootskap te tree om haweloosheid in George te verminder.
"Mense hoef nou nie meer vir mense op straathoeke bedelgeld te gee nie, maar kan Cremhog help om mense deur behoorlike dienste van die straat te help verwyder," het Olivier gesê.
Vir inligting kontak André Olivier by 082 551 8900.
Cremhog se medewerkers tydens hul Sondag-bediening. Die groep help met goeie beheer en effektiewe diens.
Gereelde etes word aan haweloses, in die parkeerterrein agter Ackermans verskaf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'