GEORGE NUUS - William Prince (54) van die Gwaing-aksiegroep wat gister op 'n klag van algemene aanranding gearresteer is, is vanoggend vrygelaat by die George-landdroshof.
Hy is gister (Donderdag 30 Desember) by die Gwaingriviermond se piekniekarea gearresteer ná 'n onderonsie met polisie- en wetstoepassingsbeamptes toe hulle twee kamptente wat die aksiegroep in die piekniekarea opgeslaan het, afgebreek het.
Hy het na sy vrylating gesê sy saak is nie op die hofrol geplaas nie en hy het genoem dat hy verdere stappe teen die polisie en munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling gaan neem.
Virgill Gericke, leier van die PBI (Pacaltsdorp Besorgde Inwoners) het beswaar aangeteken teen 'n aanhaling van hom in bogenoemde berig, 'Dagkampeerder vrygelaat' (Saterdag 31 Desember), wat intussen teruggetrek is.
Volgens die berig het hy gesê ingevolge die hofbevel van 2004 mag die publiek nie verbied word om 'n tent op te slaan op enige van die areas (hetsy piekniek- of kampeerareas) by Gwaingriviermond nie. Volgens Gericke is die tente juis die punt wat in dispuut is. Hy wys ook daarop dat hy in sy toespraak voor die hofgebou mense aangemoedig het om met hul "gazebo's" na Gwaingriviermond te gaan, nie met tente nie.
Gericke sê dat hy nie aan die George Herald die toestemming gegee het om hom aan te haal uit 'n telefoniese gesprek met hom ná die hofgebeure nie.
Die George Herald vra om verskoning vir die plasing van die aanhaling en dat hy nie akkuraat aangehaal is nie.
Bewerings dat die beamptes en polisie gister "brutaal" opgetree het, word gemaak.
Munisipale kommunikasiehoof Chantel Edwards-Klose het by navraag gesê die bywet op Munisipale Openbare Geriewe bepaal dat die area by Gwaingriviermond se strand waar die oortreding van die bywet plaasgevind het, slegs gebruik mag word deur piekniek- en/of strandgangers. "'n Dagkampeerterrein waar kampeertente toelaatbaar is, is aan die linkerkant van die karavaanpark geleë en toegang hier word deur 'n valhek beheer."
Volgens Edwards-Klose het die munisipale antigrondbesettingsbeampte en wetstoepassingsbeamptes die groep gisteroggend drie keer mondelings gewaarsku dat hulle die bywet oortree, met 'n versoek dat die twee tente verwyder word.
"Wetstoepassingsbeamptes het in die middag met die ondersteuning van die SAPD teruggekeer om weer 'n mondelingse versoek te rig vir die verwydering van die twee tente. Die persone wat die bywet oortree het, het geweier en gevolglik is die twee tente gesamentlik deur die SAPD en ons munisipale beamptes afgeslaan. Beslag is gelê op gedeeltes van die twee tente en dis in veilige bewaring by ons wetstoepassingskantore.
"Ons beamptes het gister aansienlike selfbeheersing in hul optrede getoon, soos videomateriaal duidelik bewys. Die beamptes is deurentyd verbaal aangeval. Drie munisipale amptenare asook 'n lid van die SAPD is fisies aangerand. Ons munisipale beamptes het die perseel verlaat met dele van die gekonfiskeerde kampeertente en het toepaslike klagte by die SAPD gelê waarna een persoon gearresteer is."
Die aksiegroep het verwys na 'n hofbevel van 2004 wat vrye toegang tot sekere areas by Gwaingriviermond vir die publiek toestaan.
Edwards-Klose het gesê die hofbevel waarna die aksiegroep verwys, is nie van toepassing op kampering nie, hetsy oornag- of dagkampering. "Dit verwys slegs na toegang tot die strand, en is nie van toepassing op gister se insident nie. Daar is deur die jaar by verskillende geleenthede geskakel met verskeie lede van die aksiegroep en te alle tye is dit duidelik gemaak dat die Bywet op Openbare Geriewe van toepassing is op hierdie spesifieke (piekniek-) area."
Sy het gesê op 24 Desember is die bywet op dieselfde plek oortree. "Die lede van die publiek het (in daardie geval) toegegee en hulle tent verwyder. Regulasiekennisgewingborde is by al die munisipale strandgebiede aangebring, ook by Gwaing-riviermond. Die borde dui duidelik aan wat toegelaat word en wat nie. Dagbesoekers by die dagkampeerarea en by die strandgebied naby die badkamergeriewe word toegelaat om gazebo's of sambrele op te slaan vir koelte. 'n Kamptent word onder geen omstandighede toegelaat nie. George-munisipaliteit sal voortgaan om ons bywette konsekwent toe te pas in die belang van alle inwoners. Ons beamptes is verplig om op te tree teen enige oortreding van 'n bywet wat deur die raad goedgekeur is."
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die bestuur van die SAPD van die Eden-streek neem kennis van die bewerings oor die optrede deur polisielede. 'n Interne ondersoek na die bewerings, asook die polisie se reaksie in geheel, het begin.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'