GEORGE NUUS - Die George-raad het vanoggend, 1 Junie, weer probeer vergader, nadat ‘n gebrek aan ‘n kworum verlede Donderdag, 28 Mei, veroorsaak het dat die raad ‘n elektroniese spesiale raadsvergadering moes staak.
Die raad het verlede Donderdag net lank genoeg ‘n kworum gehad om die konsep begroting ter tafel te lê. Nadat die EFF en Icosa die vergadering verlaat het, moes die vergadering egter staak.
Dit sou vanoggend voortgesit word.
Die vergadering is nou geherskeduleer vir môreoggend, 2 Junie. Die hersiening van die 2019/2020 dienslewering en begrotingsimpementeringsplan (SDBIP)* is ook deel van die agenda.
Ofskoon die ACDP en VF Plus wel vir vanoggend se elektroniese raadsvergadering opgedaag het, was dit gou duidelik dat die meerderheid van die opposisie nie die vergadering gaan bywoon nie.
Met net 26 raadslede wat vir die vergadering ingeskakel het, was die raad egter een raadslid kort vir ‘n kworum. Minstens 27 raadslede moet die vergadering bywoon sodat dit wettig kan plaasvind. Die DA het tans 24 raadslede en word ondersteun deur die ACDP en VF Plus. Die som totaal is dus 26 raadslede, wat gewillig is om te vergader.
Die opposisieraadslede het wel verskoning aangeteken. Mercia Draghoender van SAC kon weens mediese redes nie die vergadering bywoon nie. Die EFF het aangedui dat hulle ander politieke verpligtinge het, en die AIC-raadslid, Joe Mkhondo, is tans uitstedig.
Die ANC is die opposisieparty met die meeste raadslede. Hulle, tesame met die PBI en Icosa, het laat weet dat hulle nie die vergadering gaan bywoon nie.
Die ANC het by navraag aangedui dat hulle ook nie vir die raadsvergadering môre (2 Junie) beskikbaar gaan wees nie.
Die SDBIP is 'n vennootskapskontrak tussen die administrasie, raad en gemeenskap, wat die doelstellings soos deur die raad uiteengesit, uitdruk as kwantifiseerbare uitkomste wat oor die volgende 12 maande deur die administrasie geïmplementeer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'