GEORGE NUUS - Die jaar het skaars begin, maar daar kan byna met sekerheid gesê word dat die onlangse troue van Nika en Duhan van der Merwe in Knysna die troue van die jaar gaan wees.
Duhan, die internasionale rugbyspeler van George, en Nika Badenhorst het op 21 Januarie ewige trou aan mekaar beloof toe hulle by Alkira Lodge by Brenton-on-sea getroud is.
Duhan en Nika het mekaar in 2015 in Pretoria ontmoet. In daardie stadium het Duhan vir Tuks se Varsity Cup-span gespeel. Hy het later internasionaal gaan speel en al verskeie kere vir Skotland uitgedraf.
Hy het ook vir die Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke gespeel. Hulle het op 9 September 2021 op 'n seiljag in Dubai verloof geraak.
Duhan se ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simone, woon steeds in George. Nika se pa en stiefma woon in Kaapstad terwyl haar ma, Gina Badenhorst en haar sussie, Christie in Nieu Seeland woon.
Om 'n geskikte troudatum te kry was nogal 'n uitdaging as gevolg van Duhan se rugbyverpligtinge, maar op 21 Januarie het alle paaie na Knysna gelei.
Die egpaar het reeds na die buiteland teruggekeer. Duhan is deel van Skotland se groep spelers waaruit die span gekies sal word om Saterdag teen Engeland in Londen uit te draf in die Sesnasies-reeks.
Nika het Dinsdag aan George Herald gesê die troue was vir seker die mooiste dag van haar lewe. "Alles was perfek van die begin tot die einde. Dit het al ons verwagtinge oortref."
Alles was soos sy nog altyd van gedroom het. "Dit was alles en meer. Ons wou dit 'n bietjie anders maak as 'n tradisionele troue en alles het so mooi bymekaargekom."
Duhan en Nika sweer ewige trou aan mekaar tydens hul troue. Ver in die agtergrond is Knysna. Foto: Bahama Burgundy Photography
Baie van hul bekende rugbyvriende kon dit ongelukkig nie maak nie omdat dit 'n moeilike tyd op die rugbykalender is. "Maar ons het dit so verkies, want dit was lekker intiem, met net 60 gaste. Ons kon by almal uitkom op die dag en het spesiale tyd saam met elke gas probeer spandeer." Hulle het tot laat in die aand partytjie gehou.
Vir 'n wittebrood was daar nog nie tyd nie. Duhan moes reeds die volgende dag terugvlieg na Brittanje om aan te sluit by die Sesnasies-kamp. Nika is op die oomblik in Engeland en Duhan in Spanje as deel van 'n oefenkamp. "Ek sien hom die naweek hopelik op Twickenham wanneer Engeland teen Skotland speel."
Duhan en Nika tydens hul troue. In die agtergrond, ver onder is Knysna. Foto: Bahama Burgundy Photography
Die plan is om in Junie/Julie êrens in Europa te gaan wittebrood hou.
Oor hoe voel dit om nou mev. Van der Merwe te wees, het sy gesê: "Baie van my vriendinne het gesê 'n mens voel nie anders as 'n mens trou nie, maar ek doen.
"Dis vir my 'n groot eer om Duhan uiteindelik (na agt jaar) my man te kan noem. Daar is 'n dieper gevoel aan ons verhouding en die liefde was nog nooit so sterk nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'