GEORGE NUUS - Maak jouself reg vir die troue van die jaar, wanneer Duhan van der Merwe, die internasionale rugbyspeler van George, vroeg aanstaande jaar met die liefde van sy lewe, Nika Badenhorst, trou.
Die geleentheid vind op 21 Januarie by Alkira Lodge, Brenton-on-sea, Knysna plaas.
Duhan en Nika het mekaar in 2015 in Pretoria ontmoet. In daardie stadium het Duhan vir Tuks se Varsity Cup-span gespeel.
Volgens Nika het hulle destyds op Facebook Messenger begin praat. Hulle was beide te bang om mekaar in persoon te ontmoet. Na hulle mekaar egter 'n paar keer net-net by studente-kuierplekke gemis het, het hulle besluit om 'n wynaand by haar woonstel te hê.
"Duhan het daar aangekom met 'n sixpack Klippies en Cola, en het op my toon getrap toe hy my 'n drukkie wou gee."
Maar dit het nie in hul pad gestaan nie en vandaar het dinge begin gebeur. Hulle ken mekaar al agt jaar en het op 9 September 2021 verloof geraak op 'n seiljag in Dubai. "Dit was met sonsondergang - dit was perfek en sprokiesmooi," het Nika gesê.
Dit was moeilik om 'n geskikte troudatum te kry as gevolg van Duhan se rugbyverpligtinge. "Veral omdat sy vorige klub, Worcester Warriors, onlangs gelikwideer is en ons moet nou Edinburgh Rugby en Skotland se internasionale wedstryde in ag neem.
"Die troue vind naby George plaas, omdat ek weet hoe spesiaal George vir Duhan is. Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simone, woon steeds in George." Die meeste van haar familie kom van Johannesburg, die Kaap en die buiteland. "Dit gaan 'n naweek lange partytjie wees."
Hulle het besluit om 'n redelike "klein" troue te hou en dit sal deur sowat 70 mense bygewoon word.
Onder die gaste sal hulle familie en vriende wees asook bekendes in die rugbywêreld soos Akker van der Merwe (Duhan se broer en 'n oud-Springbok), Oli Lawrence (Engeland), Warrick Gelant (Springbok), Hamish Watson (Skotland), Chris Harris (Skotland), Francois Venter (Springbok) en Pierre Schoeman (Skotland). Baie van Nika se vriendinne kom ook al die pad van die buiteland.
Na die troue gaan hulle so bietjie tyd saam met familie in George deurbring, en dan direk terugkeer na die buiteland waar Duhan in die Sesnasies-reeks sal speel.
Nika gee 'n soentjie vir Duhan na 'n wedstryd van Skotland.
Duhan en Nika
Van der Merwe het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi. Tydens sy jare in dié skool het sy rugbytalente duidelik na vore gekom. Hy het onder meer vir die SA skolespan uitgedraf. Die afgelope paar jaar het hy vir Skotland gespeel en homself gevestig as een van die sleutelspelers in die span. In 2021 het hy saam met die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika getoer en teen die Springbokke gespeel.
Nika beskryf Duhan as 'n gentle giant. "Hy het die hart van 'n leeu op die rugbyveld, maar is die gaafste, vriendelikste (partykeer skaam) persoon in regte lewe. Hy sal enigiets doen vir die mense naaste aan hom.
"Hy is die beste pa vir ons twee Franse bulhonde en hou van 'n stoute brandewyntjie en 'n braai op naweke." Sy voeg so in ligte trant by hy is bang vir die donker en het 'n heilige vrees vir spinnekoppe.
Mense wat Nika goed ken, ken haar vir haar sonnige geaardheid. Sy gaan uit haar pad om almal wat haar ontmoet gemaklik te laat voel.
Sy hou van musiek, klets graag, werk in die modebedryf en is mal oor stylvolle klere. Kaalvoet rondloop, rooiwyn drink en tyd met haar twee Frenchies is van haar gunsteling tydverdrywe.
Nika se Instagram-blad beskryf haar as 'n eco-fashion advocate en sy is 'n groot ondersteuner van sustainable fashion en herwinning van klere en items.
Duhan en Nika
Duhan en Nika uitgetof vir 'n glansgeleentheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'