Tant Daphne is die weduwee van verlede week se tragedie. Haar man, Colin Pyl (65), was die busbestuurder van die skoolbus wat in Kasat-se-Drift beland en die voorpunt daarvan in die modderige water weggesink het. Pyl, alombekend as Oom Taan, asook 14 leerlinge van Rheenendal Primêre Skool het hul lewens in dié ongeluk verloor wat die gemeenskap van Rheenendal-distrik nie net geruk het nie, maar soos een groot familie saamgebring het in hul gedeelde smart.
Tant Daphne glo vas dat die Here vir haar en haar man voor die tyd gewaarsku het.
"Presies drie dae voor sy dood, by sy broer (Hans Prins) se begrafnis in Mitchells Plain, het ‘n profesie uitgegaan dat nog iemand van my man se familie binnekort ook die lewe sou verlaat - en net nadat hulle dit gesê het, toe roep hulle my man vorentoe om vir hom te bid," vertel Tant Daphne met ‘n stralende gesig vol oortuiging.
Op die oggend van die busramp, Woensdag 24 Augustus het Tant Daphne vir haar man by die hekkie gaan wag.
"Ek was besig om bekommerd te raak, want hy was ‘n baie stiptelike mens. Hy het my foontjie by hom gehad, dus het ek hom van ons landlyn gaan bel toe dit dan al hoe later word, maar daar was geen antwoord nie," vertel sy in ‘n woordevloed wat haar soms na haar asem laat snak.
Tant Daphne vertel dat toe een van hul vyf oorlewende kinders, Veronica Barens kom vertel: "Mammie, Pappa het ‘n ongeluk gehad," het die profesie van dae tevore eers vir haar "oopgegaan". Barens het glo so geskud van die skok dat sy hospitaal toe geneem moes word om kalmeer te word.
"Niemand weet wat ek al deurgemaak het nie, maar hallelujah! Die Here tel my gees op nes ek voel ek gaan nou onder dit als deur uitsak," sê dié moedige moeder met die intensiteit van iemand wie se oë ‘n dieper dimensie aanskou.
Sy vertel die dag van die busramp het in chaos ontaard met ‘n hele dorp wat in ‘n skokgolf van eers ongeloof, en toe rou gedompel is oor die gebeure wat by die rivier afgespeel het. "Soos die nuus versprei het, het mense heen en weer, op en af na die rivier toe en terug op dorp toe gekom met nog stories - in die aand besef ek eers my een seun wat by ons woon is nie hier nie."
Tant Daphne stuur toe een van haar twee kleinseuns, wat ook by haar woon, om vir Nicolaas te gaan soek.
"Die fiets was weg uit die pakhuis - hulle het hom alleen daar onder by die drif gekry - ‘n man wat net sy kop vashou en huil. My arme, arme kind. Hy was ontsettend lief vir sy pa. O, daai man was vir hom alles!"
Tant Daphne sê dat sy op die mat uitgestrek gelê het waar sy God vasgegryp het om haar te lei. "Dit is daar op die mat wat wysheid na my toe gekom het en ek ‘n deurbraak behaal het, dat die oom en die drie kindertjies van my skoonsuster, Saterdag saam begrawe moet word, want hulle het agter hom in die bus gesit. My kinders is dit eens dat hul pa uit die huis na die kerk moet gaan - sy begrafnis moet geskiedenis wees en die evangelie moet uitgaan!"
Daar is ‘n blos op Tant Daphne se wange en ‘n andersoortige kalmte wat mense wat hul medelye kom betuig, verstom. (Skaars twee maande gelede het sy ‘n beroerte gehad.) By die rivier steek Tant Daphne haar hande hoog op en loop kliphard en bid terwyl daar nuwe blomme op die water dryf.
"Vir ander is dit nog donker, maar vir my het dit lig geword - God het my gebede beantwoord. Ek kan op ‘n dak uitspring om daarvan te getuig!"
In die dae na die ongeluk het die eienaar van die busmaatskappy, Pravin Singh, Tant Daphne besoek. "Ons het in mekaar se arms gehuil," sê sy.
Oom Taan word Saterdag om 09:00 uit hul huis in Kerkstraat, Rheenendal begrawe.
For our English readers, the following summary of the above article in English:
"God lifts me up so that I can speak to the mothers and children without losing hope," said Tant Daphne Pyl (63), the widow of Colin Pyl (65), the driver of the ill-fated bus that plunged into Kasat-se-Drift, taking his life and that of 14 pupils of the Rheenendal Primary School.
Tant Daphne believes that she and her husband were warned of his imminent death. "Exactly three days before his death at his brother’s (Hans Prins) funeral in Mitchells Plain, a prophesy went out that somebody in my husband’s family would soon die - then they called my husband forward to pray for him."
On the morning of the bus tragedy, Tant Daphne was waiting for her husband at their gate as she was becoming worried at his uncharacteristic lateness. "He had my phone with him so I phoned him from our landline, but there was no answer," she said. She then describes how one of their five surviving children, Veronica Barens, arrived to tell her of the accident.
"No-one knows what I’ve had to endure, but hallelujah! The Lord picks up my spirit just when I feel I will come crashing down," said Tant Daphne.
She explains that in the ensuing chaos, it was already evening when she noticed that her son, who lives with them, was not at home. She sent one of her grandsons to look for him. "They found him at the drift, sitting alone in the dark, holding his head and crying. My poor, poor child. He loved his father very much. Oh, that man was everything to him!"
Tant Daphne explains that as she was stretched out on the carpet later that evening, she realised what needed to be done - Oom Taan and her sister-in-law’s three children would be buried together on Saturday.
"For some there is still darkness, but for me it has become light - God answered my prayers," said Tant Daphne.
The day after the tragic accident, Pravin Singh, owner of the bus company involved, visited Tant Daphne. "We cried in each other’s arms," said Tant Daphne.
Oom Taan will be buried from his home in Kerk Street, Rheenedal at 09:00 on Saturday, September 3.

Knysna burgemeester, Georlene Wolmarans en Rheenendal Primêre Skool se beheerraadsvoorsitter, Aubrey Williams luister na Tant Daphne Pyl by Kasat-se-Drift, voor die skoolpersoneel ‘n kruis met die name van die oorledenes plant.
.jpg)
ARTIKEL EN FOTO'S: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-VERSLAGGEWER