Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Vir 'n paar oomblikke was dit op Donderdag 24 September doodstil by die herinwyding van een van George se mees historiese geboue, die ou tolhuis in die Montagupas aan die voet van die Outeniquaberge toe Carl de Campos, 'n gesiggestremde, 'n kort geskiedenis van die historiese baken in braille gelees het.
Aanwesiges het aandagtig geluister terwyl sy vingers stadig oor die braille beweeg het. By hom het Joost Pyck, 'n klipmeester, gestaan wat die braille uit klip gekap het.
"Die tolhuis is in 1845 op die Montagupas gebou en hy het toe in 2018 afgebrand en is nou gerestoureer in 2020," het De Campos gelees.
Pyck se idee
Pyck het gesê die idee om iets in braille vir die tolhuis uit klip te kap is omdat sy eie pa blind was. Dit het by hom opgekom toe hy besluit het om 'n miniatuur model van die tolhuis uit klip te kap. Hy wil hê dat blinde gaste en swaksiende besoekers aan die tolhuis kan voel hoe dit lyk.
Fotogalery: Die ou tolhuis in die Montagupas
Pyck was betrokke by die klipwerk vir die restourasie van die tolhuis voordat dit afgebrand het en ook verlede jaar.
Die model en braille is uit sandsteen gekap wat afkomstig is van 'n sandsteenbank op 'n plaas in Nieuwoudtville in die Noord-Kaap. Dit het hom sowat drie dae geneem om die model uit klip te kap. Die braille was bietjie moeiliker. "Dit was 'n kopkrapper. Dit was 'n eksperiment en dit was fyn werk."
Carl de Campos, 'n gesiggestremde, lees 'n kort geskiedenis van die ou tolhuis in braille. Foto: Eugene Gunning
Kyk 'n video hieronder:
Besoekers by inwyding
Van vroeg het mense opgedaag en pannekoeke en koffie geniet. Die Donkiekar-boereorkes het vermaak verskaf. Aanwesiges kon ook die veteraanmotors en -trekkers besigtig. Kinders het met vlieërs gespeel wat hulle self gemaak het.
André Barnard, voorsitter van die Suid-Kaap Veteraan Trekker en Implemente Klub, het gesê daar is sewe trekkers en hulle dateer uit die laat 50's en 60's van die vorige eeu.
Joey Gouws van Tergniet het aandag getrek toe sy opgedaag het in Victoriaanse drag. "Ek het dit aangetrek vir Erfenisdag om bietjie anders te wees," het sy verduidelik,
Dankbaar
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het haar dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hulle hulp in die restourasie van die tolhuis. "Sonder hulle hulp sou dit nie moontlik gewees het nie," het sy gesê.
Volgens haar is die plan om die uitstalling in die bestaande waenhuis by die tolhuis uit te brei. Dit sal items bevat wat verband hou met vervoer.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'