Update
GEORGE NUUS - Dit was 'n blye weersiens laat Saterdag-aand, 5 Februarie, op Potgieters-plaas, George, toe Danielle Coetzee (25) en haar ma, Patricia Huisamen herenig is.
Danielle het meer as 11 jaar gelede van George na Kaapstad geryloop en is sedertdien deur haar familie gesoek. Sy was destyds 14 jaar oud.
Volgens inligting het sy saam met drie trokdrywers 'n geleentheid tot in Kaapstad gekry. Patricia het egter nooit tou opgegooi nie en het bly hoop haar dogter word uiteindelik gevind.
Danksy Patricia se deursettingsvermoë en die hulp van 'n organisasie, Track n Trace, is Danielle onlangs in Goodwood naby Kaapstad opgespoor. Track n Trace is 'n geregistreerde NRO wat help soek na vermiste persone.
Nadat George Herald verlede week oor die ma en dogter berig het was daar oorweldigende reaksie.
Hulle sou aanvanklik verlede Vrydag in die Kaap ontmoet het, maar dinge het toe nie so uitgewerk nie. Danielle het toe Saterdagaand omstreeks 23:00 met 'n taxi in George aangekom.
"Ek gaan alles in my vermoë doen om seker te maak dat Danielle nou hier bly. Al beteken dit ek moet saam met haar gaan vir professionele hulp," het Patricia Dinsdag gesê.
Patricia het gesê daar was trane van vreugde toe hulle mekaar weer in lewende lywe gesien het. "Ons het mekaar omhels.
"Ek wil nie hê sy moet teruggaan Kaap toe nie. Ons as familie kan haar hier ondersteun. Ek glo in George is mense wat kan help."
Die meeste van haar besittings is nog in die Kaap.
"Ons sal later 'n finale besluit neem. Ons wil graag hê sy moet professionele hulp en berading kry. Dit gaan baie beter met haar hier in George as in die Kaap. Hier het sy 'n dak oor haar kop en familie wat vir haar omgee."
LEES MEER: Blye ontmoeting wag na 11 jaar
Volgens Patricia is dit duidelik dat Danielle baie trauma beleef het. "Sy het nog nie regtig teenoor my oopgemaak nie en sy is baie stil. Ek glo as sy professionele hulp kry sal sy genees."
In die stadium vat hulle dit maar dag vir dag. Mense wat wil help is welkom. Sy benodig veral klere en sy dra 'n no.7 skoen. Sy benodig ook nog beddegoed.
Danielle het gesê sy is bly om terug te wees. "Ek dink nie ek sal teruggaan Kaap toe nie. Dit was moeilike tye in die Kaap."
Volgens haar boetie Andrew, wat verlede week Kaap toe is om haar te gaan haal, wou sy aanvanklik nie terugkom nie. "Ek moes daar bly en dit het mooi praat gekos om haar om te praat."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'