Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Blye ontmoeting wag Vrydag in die Kaap vir 'n ma van George wat haar dogter meer as 11 jaar gelede gesien het. Danielle Coetzee (toe 14 jaar oud) het van George na Kaapstad geryloop en word sedertdien deur haar familie gesoek. Volgens inligting het sy saam met drie trokdrywers 'n geleentheid tot in Kaapstad gekry.
Haar ma, Patricia Huisamen, het egter nooit tou opgegooi nie en het bly hoop haar dogter word uiteindelik gevind.
Danksy Huisamen se deursettingsvermoë en die hulp van 'n organisasie, Track n Trace, is Danielle onlangs in Goodwood naby Kaapstad opgespoor. Track n Trace is 'n geregistreerde NGO wat help soek na vermiste persone.
Dit bestaan reeds sedert 2016 en is destyds deur 'n advokaat, Venice Burgins, begin.
Danielle, wat nou 25 jaar oud is, is na 'n soektog van weke deur Chaz Thomas en Paul Meyer van Track n Trace by 'n informele struktuur in 'n beboste area opgespoor waar sy saam met haar honde woon.
Dit kom nadat Huisamen op Facebook 'n beroep om hulp gedoen het om haar dogter te vind.
Ma en dogter sou die afgelope Maandag in Kaapstad herenig word, maar dit kon ongelukkig nie plaasvind nie.
Die plan is nou dat hulle môre, 4 Februarie, ontmoet.
Video: Verskaf
Huisamen het gister (Woensdag) aan George Herald gesê sy het al 'n paar keer telefonies met haar dogter gesels.
"Dit was baie emosioneel. Ek het haar meer as 11 jaar gelede gesien. Dit was wonderlik om weer haar stem te hoor. Dis alles te danke aan die Here. Ek het baie gebid in die 11 jaar. Wonderwerke gebeur nog. Mens moet net glo."
Patrick Coetzee, Danielle se jonger boetie, het gesê hy het haar baie jare laas gesien. "Ek is baie opgewonde. Die trane val uit my oë. Ek wil hê sy moet terugkeer George toe. Ons is baie dankbaar vir Track n Trace se hulp."
Magdalena Oosthuizen, Danielle se ouma, het gesê dis nog nie duidelik wat in die toekoms gaan gebeur en of Danielle permanent gaan terugkeer na George nie. Hulle is baie bly dat sy opgespoor is.
Soekende ma: Patricia Huisamen het nooit moed opgegee nie.
Danielle het na bewering weggeloop van die huis af na 'n traumatiese gebeurtenis. Besonderhede hieroor is nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'