Oorlewing vir boere in die George-omgewing is ‘n daaglikse stryd waarin hulle moet vashou in die geloof dat dit weer sal reën en dat hierdie droogste tyd in meer as 130 jaar sal verbygaan.
Met hektare se weiding wat in die slag bly en damme wat tot die laaste druppel opdroog, verg dit vasbyt en mannemoed om aan te hou. Volgens Karl Reitz van die plaas Tura Kina in Hoekwil word alle boere gedwing om bykomende finansiële sekuriteit te vind om kontant beskikbaar te kry vir die aankoop van voer. Honderde tonne lusern en raaigras is al in die area aangekoop. Boere gaan soek sover as Upington, Jacobsdal en Douglas. Water vir menslike gebruik en diere moet daagliks op verskeie plase aangery word.
Talle veeboere is gedwing om kuddes kleiner te maak. Onder die 12 suiwelboere in die Hoekwil-omgewing is koeigetalle af met 10 tot 12% en versgetalle met tot 50%.
Karl se vrou, Tillie, wat in beheer is van hulle melkery waar 300 koeie daagliks gemelk word, sê die droogte saam met stygende insetkoste en ekonomiese insinking eis sy tol. "Ons koop reeds vir die afgelope ses maande voer aan teen ongeveer R100 000 per maand, net op ons plaas. Die droogte het ons vyf jaar teruggesit. Ons moes die plaasbestuurder laat gaan."
Hulle melkproduksie is af met 200 000 liter van Januarie tot November, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Die totale verlies in melkproduksie van boere in hierdie omgewing is tussen 20 en 30%.
Raaigras, sorghum en ander gewasse wat onlangs geplant is in die omgewing, sal nie opkom as dit nie binnekort reën nie.
2 000 koeie
Op Lancewood waar om en by 2 000 koeie gemelk word, is daar nog bietjie water in twee damme en bietjie besproeiing vind nog plaas. Daar moet egter nog steeds tonne voer aangekoop word vir daaglikse gebruik.
Peter Leppan van Mandalay sê boere benodig meer waterstoorkapasiteit, maar die Regering is onwillig om toestemming te verleen vir die bou van damme. "Voorheen hoef ‘n dam net drie maande se water te gehou het, want dit het meer gereeld gereën. Met die veranderende reënpatrone moet ons nou damme hê wat ses tot nege maande se water hou."
Peter ry 15 000 liter water per dag aan na sy kewekery toe; die Reitze 8 000 liter vir hul droeë koeie en verse.
Die Lancewood-fabriek, waarheen die meeste van die omgewing se melk gestuur word, gebruik sowat 600 000 liter munisipale water per dag. Hulle ontvang daagliks duisende liters melk van plaaslike boere. As die fabriek nie meer water het vir vervaardiging nie, sal dit katastrofaal wees.
Karl het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Knysna-boerevereniging nou vir Agri Wes-Kaap genader om namens die boere met die owerhede te onderhandel vir die vergroting van damkapasiteit in die streek.
Intussen is dit uithou en aanhou, en glo dat die reën betyds sal kom.
Sosiale agteruitgang
*Die boeregemeenskap is bekommerd oor die sosiale agteruitgang wat die droogte op die langduur op plaaslike inwoners gaan hê omdat mense hulle werk verloor. Diefstal in die omgewing het toegeneem. Enigiets van besproeiingspype, kabels, diesel en trekkerbatterye tot diere word weggedra.