Minister Anton Bredell se besluit in April het reeds tot protesoptogte deur ontevrede groepe gelei wat uitgesien het na werksgeleenthede wat volgens die ontwikkelaar sou voortvloei uit die ontwikkeling.
Die boer, Hannes Mostert, het die George Herald genader om sy mening te lug oor die aangeleentheid ná die moord twee weke gelede op ‘n huurder op sy plaas, Laer Hoogekraal. Mostert sê die armoede en werkloosheid hier lei tot morele verval in die gemeenskap.
Een van die redes vir Bredell se besluit was dat die Lagoon Bay-ontwikkeling landbougrond in beslag sal neem, maar Mostert sê dis bog. Volhoubare landbou in die gebied is nie moontlik nie.
Tydens ‘n besoek aan sy plaas en toer van Hoogekraal het Mostert uitgewys hoe die grond grootliks in onbruik geraak het. Groot dele word ingeneem deur uitheemse plantegroei. Ou onbewoonde plaasgeboue verval en verweer. Volgens Mostert is ‘n groot persentasie mense in die informele woongebied werkloos. Hulle was eens plaaswerkers maar het hul werk verloor soos wat boerderybedrywighede op Hoogekraal doodgeloop het. Daar is geen munisipale water of riooldienste nie.
42 stukke grond
Die eertydse twee plase van die Kuylers en Bothas op Hoogekraal is vandag 42 kleinhoewes. Volgens Mostert het onderverdeling plaasgevind soos wat boere stukke grond afgesny het omdat hulle nie sukses met boerdery kon behaal nie. Die gebied het nie genoeg water nie, sê hy. Slegs twee eiendomme langs die Maalgaterivier het waterregte. Die res is van reënwater afhanklik. "My 20 hektaar is te min vir ‘n volhoubare boerdery, en soos my pa wat die plaas in 1979 gekoop het, moes ek grond byhuur om ‘n melkboerdery te bedryf," sê hy.
In 2009 het die aanhoudende droogte en lae melkpryse hom gedwing om van sy melkkudde ontslae te raak.
Die Lagoon Bay-ontwikkeling het vir baie van die grondeienaars ‘n uitkoms gebied en die plaaswerkers sou werk en behoorlike behuising gehad het, sê hy. "Ek wil nou by die minister en die George-stadsraad weet hoe ekonomiese opheffing en die verbetering van die omstandighede hier bereik kan word?"
Geen boerdery
Briefwisseling tussen die boer Johan Potgieter (hy is onlangs oorlede) wat aan die destydse Table Top gelewer het, toon dat groente wat op Hoogekraal verbou is, onbevredigende opbrengste van ‘n swak gehalte gelewer het. Groot hoeveelhede is deur Table Top afgekeur. Volgens ‘n verslag van die landboudepartement bestaan die grondstruktuur uit ‘n sandbolaag en ‘n vlak klei-onderlaag wat gelei het tot versuiptoestande en erge winderosieskade aan gewasse.
Mostert en die voormalige Rustlyn-tonnelboerdery oorkant die pad van hom is die laaste wat boerdery-aktiwiteite beoefen het. Ook Morning Milk wat ‘n melkboerdery gehad het, het dit gestaak.
Volgens Rusty van Loggerenberg van die Rustlyn-boerdery is die grond nie geskik nie, maar hulle het wel genoeg damme op hul grond. John Scott, bestuurder van Morning Milk, het gesê hul melkboerdery op Hoogekraal is nie gestaak weens ongunstige toestande nie, maar omdat die boerdery-gedeelte uitgefaseer is sodat hulle al hul aandag op vervaardiging kon toespits.
Eiebelang
Mostert meen verder dat Cape Windlass, ‘n groep huiseienaars wat die ontwikkeling die afgelope agt jaar opponeer, eiebelang vooropstel. Hy sê hulle is partydig in hul omgewingsbesware teen die ontwikkeling. Van sy lede, onder meer Charles Robertson, dr. Lorraine Maritz en Louis Raubenheimer, se huise wat op die voorduin in Glentana gebou is, verteenwoordig erge versteuring van die natuurlike omgewing en kuslyn.
Robertson en Raubenheimer is vir kommentaar genader, maar het nie op boodskappe gereageer nie.
Peter Pullen, woordvoerder vir Bredell, het by navraag gesê die ontwikkelaar van Lagoon Bay het ‘n aansoek ingedien om die minister se besluit ter syde te stel. Die saak is sub judice en die minister kan nie kommentaar lewer nie.

Hendrik Michaels woon nog op Hoogekraal. Hy het sy werk op een van die plase verloor en is nou van loswerkies afhanklik.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER