GEORGE NUUS - Op 100-jarige ouderdom is Hansie Prins 'n inspirasie vir almal om haar. Nie te lank terug nie, op 94, het sy nog op haar eie in Lutzville gewoon en self dam toe gestap om die sluise oop te maak om water te lei, vertel Anika Schoeman, 'n kleindogter van Johannesburg.
Op 90 het sy nog op Schoeman se troue "ge-Charleston".
Prins woon van April af by haar dogter en skoonseun, Maré en Thys Truter, in George nadat sy 'n ruk lank in Huis Somerkoelte op Lambertsbaai tuisgegaan het. Die familie het haar verjaarsdag (13 Oktober) voorverlede naweek by Meade Café gevier.
Prins gebruik geen medikasie nie. Haar geheue is nog baie goed en sy vertel allerhande staaltjies uit haar lewe. Sy is in 1919 op die plaas Soutpan naby Lambertsbaai as Johanna Catharina Louw de Waal gebore. Sy het twee mans oorleef en moes ook twee van haar vyf kinders aan die dood afstaan. Van haar drie sibbe leef net haar jongste broer, Attie (91), nog.
Haar ma is dood toe Prins maar net 15 was en sy moes die skoolbanke verlaat om na Attie om te sien. Sy onthou hulle het nog met perdekarre gery. Hulle moes ver skool toe en terug stap. In die Groot Depressie het hulle groente van die plaas af geruil vir goed soos meel en suiker.
Hansie Prins met een van haar agterkleinseuns, Thys Schoeman (3), op haar verjaarsdag-partytjie wat by Meade Café gehou is.
Volgens Truter was haar ma 'n baie flukse vrou. Sy en haar eerste man, Andries Visser, het 'n hoenderboerdery gehad. 'n Ruk ná sy dood het sy 'n winkel bedryf voordat sy op Nuwerus in die poskantoor gaan werk het. Daar het sy haar tweede man, Gert Prins, ontmoet. Hulle het eers op Koekenaap gebly en daarna Lutzville toe getrek na die huis wat hy intussen vir hulle gebou het. Uit hierdie huwelik is drie kinders, Koos, Attie en Gerda, gebore.
Toe motors op die toneel verskyn en haar man 'n nuwe een aanskaf, wou hy hê sy moes ry. "Ek het net 'n entjie bestuur en toe vir hom gesê, kom vat jou wiel. Ek het oral gestap waar ek wou wees - poskantoor toe, kerk toe, winkel toe."
Sy onthou nog goed die geboorte van haar tweelingdogters, Maré en Hermien. Die dokter het nie geweet dis 'n tweeling nie, maar sy self het iets vermoed. Die vreugde oor hul geboorte is egter oorskadu deur die dood van hul pa (Visser) slegs 14 uur later. Prins (toe nog self Visser) en haar pasgebore babas is plaas toe waar haar pa en sy broer saam geboer het en almal kon help om die kleintjies groot te maak.
"Hulle moes gelyk geborsvoed word. Ek het hulle op sewe maande op die bottel gesit. Ek het self hulle klere gemaak, want daar moes twee van als wees," onthou sy.
Sy sou sommer vir die tweeling in 'n oggend se tyd elkeen 'n partytjierok maak. "Ek het die materiaal vierdubbel gevou, dan sny ek daardie rokke. Die middag loop die twee partytjie toe, uitgevat in hul nuwe uitrustings," vertel sy.
In 1976 het Prins haar tweede man sowel as hul jongste dogter, Gerda, aan die dood afgestaan. Haar man is dood aan 'n hartaanval en Gerda ná 'n motorongeluk.
Haar lewe is verryk deur 10 kleinkinders en agt agterkleinkinders.
Die pragtige koek vir Hansie Prins se 100ste jaar.
Wat het sy gedoen om so lank so gesond te bly? "Nee, ek weet nie. Om so oud te word is net genade van Bo."
Sy hou van egte boerekos en het nooit gerook of alkohol gedrink nie. Sy het wel hard gewerk en is lief vir lees. Sy het in haar lewe al baie boeke gelees, maar deesdae sukkel sy 'n bietjie weens katarakte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'