LANDBOU NUUS - Met die oog op die staatsrede en terwyl politieke partye hul gereed maak vir die algemene verkiesing, wil die boerderygemeenskap graag politieke leiers herinner aan hierdie sektor se potensiaal om verder by te dra tot ontwikkeling en wil ook verwys na kwesbare gebiede en die oplossings wat benodig word ten einde die prestasie van die sektor te verhoog.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan en ander regeringsbeleid erken die huidige en potensiële bydrae wat die landbou tot werkskepping in landelike gebiede en as deel van die waardeketting maak. Benewens sy waardevolle bydrae tot die handel en generering van buitelandse valuta, was en is plaaslike voedselproduksie steeds onontbeerlik vir die handhawing van nasionale voedselsekerheid, ‘n situasie wat gekoester en uitgebou moet word. In meeste landelike gebiede is kommersiële landbou steeds die dominante ekonomiese bedrywigheid en daar word verwag dat hierdie situasie in die voorsienbare toekoms sal voortduur. Suid-Afrika is egter nie geseën met hoë-potensiaal landbougrond en waterhulpbronne nie, daarom moet beleidsbesluite wat die toedeling en gebruik van sodanige hulpbronne beïnvloed met omsigtigheid geneem word.
Die belangrikste uitdaging vir die regering is om vertroue onder alle rolspelers in die sektor te kweek en sodoende investering of deelname in die groei en uitbreiding daarvan aan te moedig. Beleidsekerheid en -koördinasie was tot dusver kwelpunte wat in sekere omstandighede as teenstrydig ervaar word. Hierdie situasie word ongelukkig vererger deur onbevredigende dienslewering.
Die sektor erken dat ongelyke deelname aan die sektor veroorsaak is deur beleidsingrypings van die verlede. Sektor-rolspelers sien uit na ‘n konstruktiewe vennootskap met die regering om die nodige veranderings aan te bring. Daar is egter aspekte wat kommer wek, bv. die heropening van grondeise sal belegging kniehalter weens die onsekerheid van toekomstige eienaarskap; kollaterale waardes sal negatief beïnvloed word indien die regering afwyk van markwaardes met die aankoop van grond; en statutêre reëlings met betrekking tot die arbeidsmark bespoedig omskakeling na arbeid-besparende praktyke. Agri SA se standpunte oor hierdie aangeleenthede is op rekord, naamlik dat minder direkte ingryping en ‘n ondersteunde mark benadering die voorkeur opsie is om oplossings vir hierdie uitdagings te vind.
Die landbou ervaar ook toenemend kompeterende aansprake op natuurlike hulpbronne vanuit ander sektore, wat beperkend inwerk op die beskikbaarheid en gehalte daarvan. Watergehalte-bestuur en die beskerming van hoë-potensiaal grond verdien meer erkenning. Die doeltreffende bestuur daarvan deur die betrokke owerhede op alle vlakke behoort prioriteit te geniet.
Die handhawing en versterking van mededinging binne die landbousektor behoort sentraal te staan tot beleid en programme gemik op ‘n groter toekomstige bydrae tot die sektor. Die mededingingsvoordeel van die sektor word bepaal onder meer deur die koste om sake te doen, toegang tot doeltreffende en betroubare infrastruktuur, toegang tot gevorderde tegnologie en inligting, en doeltreffende ramprisiko-bestuur. Agri SA het tekortkominge en agterstande in hierdie verband geïdentifiseer en samesprekings met die regering gehou oor benaderings en oplossings in hierdie verband. Dieselfde geld vir handelsaangeleenthede waar aspekte soos ‘n toepaslike handel- en tariefbeleid, voldoening aan internasionale norme en standaarde ten opsigte van diere- en plantgesondheid, en die hersiening asook optimale aanwending van bestaande en toekomstige handelsooreenkomste ondersoek word. In die lig hiervan, verwelkom Agri SA die onlangse vordering wat gemaak is met die opstel van en konsultasie rondom ‘n landboubeleid-aksieplan (APAP) wat sal dien as ‘n belangrike implementeringsmeganisme wat landbou-inisiatiewe in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan bring.
Ten spyte van ‘n goeie werksverhouding tussen die boerderygemeenskap en die regering se veiligheid- en sekuriteitstrukture, bly die vlakke van geweld en misdaad in landelike gebiede steeds onaanvaarbaar hoog. Agri SA is bewus van die kompleksiteit van die verskynsel en sal sy volle ondersteuning bied met die implementering van alle elemente van die landelike beveiligingstrategie en spesifiek die reserviste-beleid. Met betrekking tot wyer kommer oor ‘n gebrek aan respek vir wet en orde, doen ons ‘n beroep op die regering om hul vasbeslotenheid om toepaslike oplossings te soek en te implementeer te versterk en ook ‘n voorbeeld te stel in hierdie verband.
Agri SA is van mening dat die herstel van aanvaarbare vlakke van ekonomiese groei die uiteindelike oplossing vir Suid-Afrika verteenwoordig. Terselfdertyd moet ‘n sosiale ontwikkelingsmodel ontwikkel en implementeer word wat opleiding aan voornemende entrepreneurs sal verskaf ten einde die vestiging van ‘n groter kleinsakesektor sowel as hoë gehalte werknemers te verseker. Ons siening is dat so ‘n benadering ‘n meer eweredige verspreiding van welvaart sal verseker en die getal huishoudings wat primêr van regeringstoelaes afhanklik is, sal verminder.
Dit is uiters belangrik dat almal in Suid-Afrika ‘n gemeenskaplike visie vir die land nastreef en ‘n ekonomiese strategie ondersteun wat tot groter groei en werkskepping sal lei om sodoende ‘n beter lewe vir alle landsburgers te verseker.
Uitgereik deur Agri SA.