Dr Hennie Barnard, George:
Met verwysing na die artikel 'Maintenance of George Airport's flight procedures 'prioritised'' (George Herald, 27 Maart).
Soos in die artikel genoem, is van die toerusting op George-lughawe nie diensbaar om vlugte te laat opstyg of te laat land wanneer die wind uit 'n spesifieke rigting waai en/of swak sigbaarheid die probleem is nie.
Heelwat plaaslike vriende is al hierdeur geraak, een op pad na 'n begrafnis toe waar hy 'n toespraak moes maak.
Swak sigbaarheid het sover as vyf jaar gelede al gemaak dat 'n vlug waarop ek was, 'n uur of twee in Kaapstad moes gaan wag. Die publiek moet weet wanneer dit gaan regkom. Hoekom?
Kom ek gee konteks: Ek en my vrou vlieg einde Mei oorsee met 'n internasionale vlug vanuit OR Tambo (ORT), ons sluit aan in Istanbul en vlieg uiteindelik tot in Sofia, Bulgarye. Ons vertrekvlug uit ORT kan ons nie mis nie.
Ek het op hierdie stadium vlugkaartjies van George na ORT en ons land so vier ure voor ons internasionale vlug op ORT vertrek. Geen probleem om dit te maak as George-lughawe se eende - om ons bloot betyds te laat opstyg - in 'n ry is nie. Wat moet ons maak? Moet ons 'n dag of twee vroeër gaan en naby ORT sit en wag omdat George se toerusting nie werk nie?
As die wind daardie dag verkeerd waai, gaan ons laat wees vir die vlug.
Hoor net hoe laf klink dit: Ons kontak ons toeragente, hotelle en plekke waar ons motors gehuur het oorsee op die nippertjie en deel hulle mee dat alles skielik verander het. Ons hele maand se toer in Oos-Europa is omvergegooi omdat die wind in George vanuit 'n verkeerde rigting gewaai het!
George Herald het dr. Barnard se brief na die minister van vervoer Barbara Creecy en die nasionale Lugbeheer- en Navigasiedienste (ATNS) se woordvoerders gestuur vir kommentaar, maar teen saktyd is geen terugvoer ontvang nie.