Jannie Stander, Geelhoutboom/Diepkloof:
In die berig van 3 April 2025 is dit duidelik sigbaar dat Good-raadslid Rosa Louw se opmerkings polities gedrewe is. Daar word gekla dat kompostering wat plaasvind oormatige vlieë en reuk veroorsaak.
Goedkeuring en lisensiëring is deur die Wes-Kaapse department van omgewingsake verleen na maande lange impakstudies, tyd en geld. Daar kan net op twee maniere kompostering plaasvind: deur horisontale hope of 'n piramiede.
Die hoendermis wat elke dag van die hoenderplaas verwyder moet word, word onmiddellik na aflaai met 'n laag saagsels of strooi wat reuk demp, bedek. Binne drie ure van aflaai word dit vermeng en twee dae later weggery na plase in Hoekwil, Plettenbergbaai, Riversdal, Heidelberg en plaaslik.
Hierdie organiese kompos is 'n aanwins vir die landbou en omgewing, wat kos moet produseer vir mens en dier.
Genoegsame vlieëvangers is opgerig.
Mev. Louw moet eerder aandag gee aan die houthuis wat deur George-munisipaliteit in 2023 tydelik opgerig is nadat 'n huis afgebrand het. Daar bly drie gesinne en die konstruksie is reeds deur die wind skeef gewaai.
Daar is geen toiletgeriewe nie en mense was en ontlas in 'n servituutsloot wat se water na 'n naburige melkplaas toe gaan vir menslike en dierlike gebruik.
Beetle Jansen, een van die mense wat kla, bly eintlik drie kilometer verder. Die ander klaers is in die ou historiese geboue wat verniel word en onwettig sonpanele opgerig word met daggaplante aan die voorkant, papiere wat rondlê, en hulle ontlas ook aan die oorkant van die pad in die rivier. Hul eie ontlasting veroorsaak ook die vlieë.
Hul onwettige besetting van die geboue is selfs 'n probleem vir pastoor Leon Prinsloo wat reg langsaan Sondae kerkdienste hou, want daar word harde musiek gespeel en drank verkoop.
Good is vir kommentaar genader, maar hulle het verkies om nie kommentaar te lewer nie.