Suléne Bell skryf:
Ek is regtig disgusted met die hardloop-gemeenskap.
Die Outeniqua-marathon van 27 April wat deur die Sewepasse-pad gaan word bestrooi met plastieksakkies. Die sakkies word nie in die kartonbokse gegooi wat na die waterpunte geplaas word nie, dus lê die sakkies heeldag op en langs die pad tot dit na die wedloop opgetel word.
Hoeveel van die plastiek eindig op in die natuur en die riviere reg langs die pad? Dit is so 'n natuurskoon pad wat net bestrooi was met plastiek gedurende die wedloop!
Dit is regtig tyd dat die padwedlope ook 'n no littering-beleid begin toepas. Om die plastieksakkies in 'n sak/pouch te druk kan seker nie soveel moeite wees nie en seker ook nie so swaar wees om saam te dra tot die volgende weggooipunt nie!
Foto aangeheg van die gemors wat na die tyd deur fietsryers opgetel is.
Verder was die Sewepasse-pad nie eksklusief gesluit vir die wedloop nie, dus is daar ander padgebruikers wat ook die pad gebruik. Die hardlopers gebruik die volle pad - twee bane van kant tot kant en enige iemand wat van voor af kom aan die regterkant van die pad moet probeer padgee vir mense wat aan enige kant van die pad hardloop in hulle massas.
Die deelnemers voel regtig 'n veer vir enige padreëls en ander gebruikers. Dit is 'n pragtige pad wat met die wedloop in chaos en gemors gedompel is. Ek is seker een baan is voldoende vir so 'n wedloop.
Organiseerders reageer:
In reaksie op die leser se brief, het die president van Outeniqua Harriers, Duppie du Preez, die volgende gesê.
As president van Outeniqua Harriers reageer ek graag. Outeniqua Harriers is die trotse aanbieders van die jaarlikse George Outeniqua-marathon wat al meer as 40 jaar aangebied word en wat vanjaar 'n rekord getal deelnemers gelok het.
Ek dink dit is uiters swak van die skrywer om na die koerant te hardloop eerder as om die feite by die organiseerder te kry. Dit laat 'n swak smaak in 'n uiters suksesvolle wedloop wat honderde atlete buite die provinsie gelok het.
Die feite is soos volg:
1. Die wedloop 42,2 km en 21,1 km strek van George oor die damwal deur die Universiteit via die Sewepasse-pad na Wildernis. Ek neem aan die klaer verwys ook na die gedeelte by die dam deur die plantasie.
2. Daar is vyf waterpunte vanaf die damwal tot by die afdraai op vanaf die Sewepasse na Wildernis Hoogte.
3. Die organiseerder versoek die waterpunte om sover moontlik skoon te maak terwyl atlete verby hardloop.
4. Die organiseerders gee kartonhouers en sakke aan waterpunte sodat atlete sover moontlik die sakkies en koppies daarin kan gooi, maar met baie atlete is dit onmoontlik - die klaer kan gerus kyk na alle groot wedlope. Daar word na die tyd skoongemaak.
5. Die organiseerders het 'n span wat skoonmaak. Ongelukkig kan die mense ook nalaat om alles op te tel, daarom is dit belangrik om daarop te let dat die organiseerders, nádat alles klaar is, weer teruggaan op die roete om die enkele oorblywende vullis te fiets of hardloop skoon te maak, soos die afgelope meer as 40 jaar om doodseker te maak alles is skoon. Dit het Sondag en gister, Maandag 28 April, plaasgevind. Atlete, waarvan ek self een is, het die roete vanaf die dam tot in Wildernis gehardloop en selfs ander gemors van die algemene publiek, opgetel.
6. Ten opsigte van die padgebruik, weet ek nie of die klaer dalk nuut is in George nie, maar dit is die eerste klagte wat die organiseerders ooit oor die roete/padgebruik ontvang het.
Daar word egter kennis geneem en die organiseerders sal wel in die toekoms BAIE GROOT borde maak, veral as die pad weer amptelik oop is, tans is die pad tegnies gesluit soos wat die borde aandui.