Update
GEORGE NUUS - Roubeklaers wat Saterdag 27 Oktober die begrafnis van Ivin (42) en Yolande (40) Jordaan bygewoon het, het 'n kykie gekry in die hegte familiebande van die egpaar en hul enigste dogter Yoline (21).
Die egpaar is uit 'n stampvol VGK in Rosemoor begrawe en dit is bygewoon deur, Yoline, familie, vriende en kollegas. Die egpaar het op Saterdagaand, 20 Oktober, 'n paar kilometer van hul huis, tragies verongeluk.
Saterdag se diens is waargeneem deur eerw. Frederick Lourens van die United Congregational Church waarvan die egpaar lidmate was. Ivin was 'n werknemer van die departement korrektiewe dienste. Van sy kollegas het 'n erewag buite die kerk gevorm toe die oorledenes se kiste in die kerk gedra is.
Mervin de Smit is namens die egpaar se familie gevra om tydens die diens 'n huldeblyk te lewer. Hy het vertel dat Ivin en Yolande soos vinkel en koljander was. Hulle het mekaar reeds op skool ontmoet. Uit die staanspoor het die liefde geblom en dit was tot die einde so.
Soms was daar verskille. Hulle was baie na aanmekaar, maar hulle kon nooit vir mekaar kwaad bly nie.
De Smit het gesê daar is soveel wat hy oor Yolande kan vertel, maar die dag sal te kort wees. Sy het nooit in die beroepslewe gewerk nie en het na haarself as 'n "executive housewife" verwys. Sy was 'n suster wat altyd daar was in tye van nood.
Eerw. Frederick Lourens van die United Congregational Church lei Saterdag se diens in die VGK. Foto: Eugene Gunning
De Smit het tot groot vermaak van aanwesiges 'n staaltjie uit haar jeug vertel. Volgens hom het sy altyd geskerts sy kan nie ver loop nie. Haar verskoning was dat haar voetjies te klein was en dat sy baie sweet. "Ons het altyd gewonder hoekom sy so sê, want sy was 'n gedugte naelloper en 'n senter in die netbalspan."
Ivin weer was vir sy skoonfamilie soos 'n tweede broer. Vir Ivin was sy gesin alles. Hy het Yoline altyd "prinses" genoem.
De Smit het verwys na 'n vriend van die familie wat baie hartseer is. Vir hierdie vriend laat die egpaar se dood 'n groot leemte wat nooit gevul sal kan word nie.
Verteenwoordigers van korrektiewe dienste het in huldeblyke net lof gehad vir hul kollega en Yolande wat haar man bygestaan het.
Hy is beskryf as die ideale korrektiewe dienste beampte.
Jan Tieties, hoof van George-gevangenis, het gesê Ivin het konflik te alle tye vermy.
Die kiste van wyle Ivin en Yolande Jordaan staan voor in die kerk tydens die begrafnis Saterdag. Foto: Eugene Gunning
Hy het namens die George-gevangenis en die areakommissaris 'n huldeblyk gelewer. Die mense van korrektiewe dienste is diep geskok oor sy dood en daar is kollegas wat dit steeds nie kan verwerk nie.
Ndileka Patience Booi, areakommissaris van die Suid-Kaap het 'n huldeblyk namens die Wes-Kaapse provinsiale kom-missaris, Delikile Klaas gelewer. Sy het Ivin gesalueer as kollega en vriend. Sy het die familie getroos en bygevoeg: "God sal op sy tyd die wonde genees." Eerw. Lourens het uit Lukas 8 vers 22 tot 25 voorgelees. Die opskrif is: 'Jesus maak die storm stil.'
Volgens hom kan storms in verskillende vorms kom soos byvoorbeeld die hartseer van 'n geliefde wat deur die dood weggeneem word. Die Stormstilmaker (Jesus) is vandag nog steeds beskikbaar. "Jesus verras steeds en maak storms stil."
Die begrafnisprogram van wyle Ivin en Yolande Jordaan.
Lees vorige artikels hier:
- Baie teenwoordig by egpaar se begrafnis
- 'Kom net huis toe'
- Man vas na dood van egpaar in motorongeluk
- Man and wife killed in car accident
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'