GEORGE-NUUS - Johan Koch is as voorsitter van SWD Tennis verkies en Garnett Wicomb is die nuwe ondervoorsitter.
Die res van die bestuur wat tydens die algemene jaarvergadering saamgestel is, is Christine van Coller (sekretaris), Connie Plokhooy (tesourier), Debbie Human, Yvonne Dippenaar, Deon Zietsman, Henriëtte Stander en Jan Combrink (bykomende lede).
Koch het in sy voorsittersverslag gesê die unie het nóg ‘n goeie jaar agter die rug.
Die SWD het twee provinsiale wedstryde teen die Oostelike Provinsie en Noord-Boland gewen terwyl die een teen Boland weens onvermydelike omstandighede nie plaasgevind het nie.
Die spanne wat in die unie se eersteliga gespeel het, het volgens Koch vir tennis uit die boonste rakke gesorg.
Hy het gesê planne is reeds ver gevorder om ‘n eerste mini-interprovinsiale toernooi vir spanne van die Westelike Provinsie, Boland, die Oostelike Provinsie en die SWD gedurende Augustus op Oudtshoorn aan te bied.
"Dit sal ‘n geleentheid bied vir ons jong spelers om hul staal teen die bestes van ander provinsies te wys."
Hy het ook die SWD Veterane Tennisvereniging geloof vir wat hulle doen.
In teenstelling met al die positiewe nuus het hy egter die ontwikkeling van tennis in die streek as ‘n nagmerrie beskryf omdat dit nie van die grond af kan kom nie.
Voorts het hy klubs die versekering gegee dat hulle in die toekoms deurentyd ingelig gehou sal word met maandelikse nuusbriewe.