SPORTNUUS - Na 'n afwesigheid van twee jaar as gevolg van die koronavirus was daar weer volop aksie tydens die Stilbaai Touchies op 26 Desember.
Die heel eerste toernooi was in 1978 in Stilbaai en vandaar het dit later ontwikkel in 'n reeks agt toernooie, wat in Kampsbaai afgeskop en uiteindelik in Hartenbos klaargemaak het.
Stilbaai bly egter die grootste en belangrikste toernooi en vanjaar het 52 spanne dit uitgespook in 'n Ope- sowel as Pro-kompetisie.
Uiteindelik het The Warriors die Ope-afdeling gebuit en in die Pro-reeks het die Score Forward Legends die res in die sand vertrap. Hulle het ook met dié oorwinning seker gemaak dat hulle die Pro-reeks wen met nog twee toernooie wat voorlê.
Dan was daar natuurlik die GaanBos Mej. Touchies-kompetisie en hier het Meagan Meiring van Pretoria met die louere weggestap.
Meagan Meiring van Pretoria is aangewys as Mej. Touchies. Die oudSpringbok-haker Schalk Britz het haar prys oorhandig.
Mnr. Boepens het heelwat minder inskrywings gelok. Meeste mans wil tog nie spog met hierdie uitstaande kenmerk nie, maar die wenner was Tertius van Vuuren van Namibië. Die R1000-petrolkoopbewys het duidelik die deurslag gegee en hom omgehaal om wel sy besondere bates ten toon te stel.
Schalk Britz (links) staan by Tertius van Vuuren van Namibië wat as Mnr. Boep aangewys is.
Grahame Bobrow, direkteur van die reeks, het net lof gehad vir Stilbaai en die vakansiegangers se ondersteuning en het veral vir Archie van Dyk, plaaslike organiseerder van die touchies, bedank vir sy rol om hierdie toernooi 'n reuse sukses te maak.
Wetstoepassing en streng reëls by die biertent het gesorg vir 'n vreedsame, gesinsgeoriënteerde toernooi wat almal kon geniet en was beslis een van die hoogtepunte van die Desembervakansie in Stilbaai.
Seagulls-rugbyklub van Melkhoutfontein het ook 'n span vir die touchies ingeskryf. Hulle is deur Preekstoel Beach Estate geborg.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'