GEORGE NUUS - Reëlings vir die George Tens sport- en leefstylfees is op koers. Die fees sal vanjaar van 15 tot 18 Desember plaasvind. Dit het verlede jaar tussen 2 en 5 Desember plaasgevind.
Ofskoon dit verlede jaar suksesvol was, is dit ietwat gekniehalter deur Covid-19-regulasies. Toeskouers is toegelaat, maar net in beperkte getalle.
Die George-munisipaliteit gaan weer vanjaar betrokke wees. Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, het dit by navraag bevestig.
Verlede jaar kon deelnemers aan die 10-kode rugby (mans en dames), gholf en netbal deelneem. Vanjaar kom strandvlugbal en raakrugby (touchies) by. Die plan is om ook veldlope en bergfietswedrenne in die Outeniquaberg aan te bied.
Die twee kodes moes verlede jaar afgestel word omdat storms skade aan die beplande roetes aangerig het. Oud en jonk sal weer aan die verskillende sportkodes kan deelneem.
Wessels het gesê verlede jaar se geleentheid was 'n sukses en hy glo dit sal vanjaar dieselfde pad loop. Hopelik sal meer toeskouers die geleenthede kan bywoon.
Dit bly 'n ekonomiese dryfveer om sulke geleenthede aan te bied. Dit stimuleer die ekonomie.
Dit word gedoen deur volhoubare toernooie soos die Tens aan te bied. Die toernooi het gewys dat iets goed gedoen is ondanks die moeilike omstandighede.
"Dit wys ons het iets raakgevat." Volgens hom gee die geleentheid diversiteit aan die gewone vakansieseisoen en besoekers kan dit kombineer met hul vakansie.
Van die eerste spanne het al begin inskryf. Heyneke Meyer is weer by die reëlings betrokke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'