Gallery
GEORGE NUUS - Saterdag 11 Junie is dit maak of breek vir die SWD Arende. As die span nog hoop om die eerste divisie van die Currieberreeks te wen, moet hulle eers Saterdag teen die Grens Bulldogs in Oos-Londen wen. Die wedstryd begin om 15:00 en teen 17:00 kan daar duidelikheid wees of die span in 'n halfeindronde gaan speel.
As die span met 'n bonuspunt wen, gaan hy beslis deur. Sou die span net wen, sal dit afhang van wat in die ander wedstryde in die reeks gebeur.
Dinge het nie verlede Vrydag, 3 Junie, vir die Arende heeltemal volgens plan verloop toe hulle met 27 - 42 teen die Black Lions van Georgië verloor het nie. Dit was 'n klipharde en baie fisieke wedstryd.
In een stadium het die humeure reg voor die hoofpaviljoen oorgekook en die spelers het mekaar "gegroet".
Na sowat 26 minute het die Arende met 6 - 21 agtergeloop.
FOTOGALERY: SWD Arende teen Valke
Die span het egter karakter gewys en teen rustyd was die telling 13 - 28. Kort na rustyd het die manne van Georgië hul voorsprong vergroot na 35 - 13. Die Arende het nie gaan lê nie. Na sowat 30 minute in die tweede helfte het die Arende die telling laat krimp na 27 - 35.
Die bestuurder van die Black Lions, Alexi Lordanishishvili, oorhandig na die wedstryd 'n klein geskenk aan Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby. Dit was uit waardering van die unie se gasvrye ontvangs van die span.
Die tuisspan se ondersteuners op Outeniquapark het begin dink die Arende kan dalk tog die knoop deurhaak. Die Black Lions het egter weer gaan druk. Uiteindelik het die Black Lions ses keer agter die doellyn gaan kuier en die Arende drie keer.
Die Arende het ook met twee strafskoppe geslaag.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê as hulle gewen het, sou die span vir die halfeindstryd gekwalifiseer het. Hy het bygevoeg: "Ons kan nie terugkyk en die verlede verander nie."
Die span het wel geleer uit die nederlaag. Die Arende het drie keer agter die doellyn van die Black Lions gaan kuier. Daar moet in gedagte gehou word dat teenstanders van die Black Lions in vanjaar se reeks net 11 drieë teen hulle gedruk het. Volgens hom was dit 'n goeie kwaliteit span en die meerderheid het al vir hulle land se nasionale span uitgedraf.
Die Arende se fokus is nou op die Bulldogs.
"Die Bulldogs is 'n trotse span en sal die reeks op 'n hoë noot wil afsluit. Daar is geen druk op hulle nie."
As die Arende deurdring na die halfeind-stryd sal die span teen of die OP Olifante in Gqeberha moet speel of teen die Griffons in Welkom.
Die Arende het nou agt wedstryde agter die blad in die reeks waarvan hy vyf gewen het en drie verloor het.
Die SWD Arende, lede van die unie en die spanbestuur besin na die wedstryd.
Norman Kupido, (links) voorsitter van die kusstreek in SWD-rugby, Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby en Bevin Fortuin, oud-Springbok en 'n voormalige kaptein/afrigter van die Arende by Vrydagmiddag se rugby.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'