Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - Rynard van As, wat sy merk as speler en rugbyafrigter in die Suid-Kaap gemaak het en deesdae sukses behaal as afrigter in Rusland, gaan 'n Rus word. Hy kwalifiseer in Maart 2025 vir Russiese burgerskap en gaan dit aanvaar.
Van As, wat in die verlede baie suksesvol die SWD Arende afgerig het, is deesdae 'n afrigter van 'n Russiese rugbyklub, Enisey STM in Krasnoyarsk in Siberië.
Van As het op sy dag in 28 wedstryde vir die Blou Bulle uitgedraf. Hy was losskakel en wyle Joost van der Westhuizen skrumskakel. Later het hy ook vir die Valke gespeel en 97 keer vir die Arende uitgedraf.
Hy was sedert 2009 in verskillende hoedanighede betrokke by die Arende onder meer as spanbestuurder en hoofafrigter. Later in 2018 het die SWD Arende onder sy afrigting die 1ste divisie van die Curriebekerreeks gewen. In 2018 was daar in 'n stadium onsekerheid en vrae oor die finansiële situasie in Suid-Afrikaanse rugby en veral die kleiner unies soos SWD.
In 2018 het hy voelers uitgesteek om by afrigting betrokke te bly en nie omgegee waar dit is nie.
Einde Februarie 2019 het hy gehoor daar is 'n moontlikheid om in Rusland te gaan afrig. Aan die begin was hy 'n bietjie onseker en skrikkerig. Dit sou aanvanklik vir 'n drie maande tydperk wees, maar nou is hy permanent daar.
Sy vrou, Yvonne, het later by hom aangesluit en hulle is deel van 'n groep Suid-Afrikaners wat baie gelukkig daar by rugby betrokke is.
Hy kuier op die oomblik in die Suid-Kaap en kan nie uitgepraat raak oor sy lewe in Siberië nie. Destyds was hy as't ware "gedwing" om die nuwe pos te aanvaar want hy het geen ander heenkome gehad nie. Nou kyk hy nie terug nie.
Die dorp waar hulle woon is sowat 5 000 km van Moskou en ook in 'n ander tydsone.
Hy het aan George Herald gesê daar is verskeie uitdagings soos die taal en die weer. "Dis 'n moeilike taal en ons loop Russiese klasse. Met die afrigting is dit nie te moeilik nie en daar is ook tolke wat help. Van die spelers kan Engels praat."
Die weer is 'n aanpassing. Van hulle wedstryde is al in -15°C gespeel en soms daal die kwik tot -30°C.
Dis ook 'n uitgestrekte land en dit neem hulle gemiddeld ses en half ure om by 'n wegwedstryd te kom. Hulle moet gewoonlik per vliegtuig na wedstryde reis.
Die klub het die laaste paar jaar sukses behaal en was al vier keer die nasionale kampioen. Die klub was ook vier keer die wenner van die Russian Cup.
"Rugby daar is baie fisies. Ek sal die standaard vergelyk met die eerste divisie van die Curriebekerreeks in Suid-Afrika - indien nie beter."
Van die klub se spelers het in die verlede al in die Wêreldbekertoernooi gespeel, maar internasionale deelname is op die oomblik taboe. Dit is as gevolg van die internasionale boikot teen Rusland weens die oorlog in Ukraine.
Hy en Yvonne sal solank moontlik daar wil bly. "Ons is gelukkig daar en voel veilig. Natuurlik mis ons Suid-Afrika, ons familie en vriende. So ook braaivleis en ons kultuur."
VIDEO - Rynard van As wat al diep spore getrap het in Suid-Kaapse rugbykringe vertel oor sy rugby afrigting in Rusland:
Video: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’