GEORGE NUUS - Op die rugbyveld het hy alles vir sy klub gegee. Só sê Hilton November, hoofafrigter van die Evergreens-rugbyklub, na die ontydige dood van een van sy spelers, Ronnie Laminie (40).
Laminie is Saterdag 23 November in 'n taverne vermoor terwyl hy potbal gespeel het. Die 35-jarige Samuel Draai is Sondagoggend 24 November in verband met dié moord in hegtenis geneem.
Pacaltsdorp-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Simone Jansen, sê 'n stryery het glo tussen Laminie en Draai uitgebreek waarna Lamini met 'n mes in sy linkerskouer gesteek is.
"Met die polisie se aankoms op die toneel was die man reeds dood," sê sy. Die mes was nog in sy skouer.
Draai is vroeg Sondagoggend in Rosedale in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag 26 November in die George-landdroshof verskyn en die saak is tot 6 Desember vir sy borgtogaansoek uitgestel. Hy bly in aanhouding.
'Onwettige taverne'
Volgens Pacaltsdorp-buurtwag se voorsitter, Charlie Daman, is die taverne waarin Laminie vermoor is, onwettig.
"Ons gaan dit nie verder duld nie. Pacaltsdorp-buurtwag gaan onwettige smokkelhuise se deure summier begin toemaak. Ons gemeenskap gaan reeds gebuk onder misdaad en ons het nie nog bykomende invloede nodig nie," sê Daman.
Familie lief vir hom
Ronnie se eggenoot van 20 jaar, Debbie, sê haar man was 'n mens met baie liefde vir sy familie en veral sy kinders. "Ons het nie regtig woorde in hierdie stadium nie. Ons gaan hom vreeslik mis. Hy was 'n baie goeie pa vir sy kinders en broer vir sy susters. Sy pa gaan hom ook vreeslik mis. Die hele familie was lief vir hom."
Evergreens groet Laminie
Hilton November, hoofafrigter van Evergreens-rugbyklub, sê Laminie se dood is 'n groot skok. "Ronnie, oftewel Bulletjies soos ons hom genoem het, was getrou aan die klub. Hy het in 1998 aangesluit op heelagter in die derde span en het later vir die A-span uitgedraf. In sy tyd as kaptein was hy 'n goeie leier en het altyd gelei met sy inklimspel."
November sê Laminie was saggeaard, 'n spanspeler en altyd 'n positiewe persoon om in die kleedkamer te hê.
"Hy het goeie maniere gehad, was gewild onder sy spanmaats en het altyd hard gewerk om sy plek in die span te verdien. Hy was lojaal en gedissiplineerd en het altyd sy medespelers, afrigters en bestuurspan met respek behandel. Hy laat 'n leemte by Evergreens. Ons innige meegevoel aan sy familie. Mag ons Here hulle versterk deur die tyd van beproewing."
Begrafnisreëlings
'n Biduur is Dinsdag en Woensdagaand by die Laminies se huis in Rubensingel gehou. Vanaand is daar 'n roudiens om 19:00 by Eagles Nest Ministries en Saterdagoggend begin die begrafnis om 10:00 by die huis en 11:00 weer by Eagles Nest.
Laminie laat sy vrou Debbie, hulle vier kinders, Willen Mei (18), Duwayne Mei (14), Amelia Mei (13) en Ronaldo Laminie (9) agter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'