Gallery
GEORGE RUGYNUUS - Spannender kon dit nie eindig nie. Die MicFin Premierliga-wedstryd tussen Maori's en Blanco Saterdagmiddag in Heidedal het in die doodsnikke vir 'n gelykopuitslag van 31-31 gesorg nadat Hentzwill Pedro, die blits van Blanco, met 'n kurktrekkerlopie onder die pale oorgeval het vir 'n drie.
Die doelskop het die telling gelykop gemaak nadat albei spanne beurte gemaak het in die op-en-af-wedstryd om voor te loop.
Maori's het in die laaste sekondes kans gekry om die wenpunte aan te teken met 'n strafskop op die middellyn reg voor die pale, maar Alton Tarentaal (senter) se korrel was effe skeef en die bal het regs verby die pale getrek.
Hoewel die ondersteuners, wat hulle onberispelik gedra het, dalk nie sal saamstem nie, was die uitslag 'n getroue weergawe van die dag se spel. Niemand het verdien om met 'n nederlaag van die veld af te stap nie.
Vir albei spanne wag daar nog baie skaafwerk voor. Swak hanteerwerk het talle belowende bewegings vroeg gekelder. Die taktiese skopwerk was aanvanklik swak en om 'n strafskop kantlyn toe nie uit te skop nie is onverskoonbaar.
Marshall Boesak beur oor die doellyn vir 'n drie ná 'n kraglopie.
Albei spanne het uit gebroke spel sterk aanvalle geloods, maar kon nie altyd afrond nie weens gebrekkige hantering. Albei sal ook moet werk aan hul verdediging.
Moet nie een van die twee spanne vanjaar onderskat nie...
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'