GEORGE NUUS - Spannender as dit kan 'n rugbywedstryd homself beswaarlik afspeel. Nie eens Hollywood se draaiboekskrywers kan só 'n riller skep soos dié een wat Saterdagmiddag in die Gaatjie afgespeel het toe Blanco en Groot-Brakrivier mekaar in hul laaste wedstryd in die SWD-rugbyunie se Superliga aangedurf het nie.
Die twee spanne het mekaar soos swaargewigboksers in 'n kryt disnis geslaan, maar nie een wou bes gee nie.
Anroy Roelfse, van Groot-Brak, het in daai laaste minuut gaan druk vir 'n gelykopuitslag van 29 - 29 nadat die telling lank op 22 - 22 vasgehaak het.
Blanco het teruggeslaan met 'n sewepunter en die tuisskare het sekerlik gedink dis neusie verby vir die besoekers, maar gee hulle dit ter ere: Groot-Brak het nooit gaan lê nie en verwoed aangeval om 'n gelykopuitslag uit die kake van 'n nederlaag te red.
Blanco het die wedstryd goed begin en met twee onverdoelde drieë vroeg in die wedstryd toegeslaan.
Groot-Brak het net voor rustyd 'n drie gedruk wat die rustydtelling op 10 - 8 te staan gebring het.
Ceegan Jaftha (vleuel) val die doellyn aan met Shahoon Booysen (vleuel) wat hom probeer keer. Regs is Ryan Davids (heelagter) besig om Jaftha aan te moedig.
In die tweede helfte het Blanco goed begin en twee vinnige drieë gedruk en vir lank met 22 - 8 voorgeloop waarna die besoekers met 'n grootse terugvegpoging begin het. Die besoekers het in dié stadium groot selfbeheersing aan die dag gelê en nie paniekerig geraak nie. Dit het die gewenste uitwerking gehad en hulle kon binne trefafstand bly.
Voorlangs het albei agttalle die pap behoorlik dik aangemaak en mekaar goed opgedreun.
Toe Groot-Brak sy impakspelers in die tweede helfte opgestuur het, het daar 'n kentering in hul spel gekom en moes Blanco vir 'n vale verdedig. Gelukkig kon hulle dié aanslag trotseer. Maar Blanco het in die skrums gesukkel en Groot-Brak het dit uitgebuit om in die doodsnikke die gelykmaker aan te teken.
Vir Groot-Brak het sy losskakel, Aschaldo Prins, met 'n koelkop die wedstryd dikteer. Die agterste driehoek van Hershelle Stigling, Georgie Piedts en Shahoon Bayman was uitstekend op die aanval en het drie van hul vier drieë gedruk.
Blanco se driedrukkers was Abonile Hawu (stut), Craig Gelderbloem (vleuel), Winslin Klaassen (skrumskakel), John-Graham Botha (flank) en Jujade Stoffels (vleuel). Jayme Stoffels (losskakel) was suksesvol met twee doelskoppe.
Die skeidsregter, Jason Japhta, het die wedstryd skitterend gehanteer.
Marquin Smart, kaptein en slot van Groot-Brakrivier, probeer 'n gaping slaan met Blanco se twee flanke Byron Booysen (links) en Wayne Khan (regs) wat op hom toesak.
Winrich Kennedy, bulsot van Groot-Brak probeer vorentoe storm met die bal met Blanco se Quewin Stoffels (links) en Braden Andrews (regs) wat hom probeer stuit.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’