Gallery
GEORGE RUGBY-NUUS - Die jongmanne en seuns van Golden Valley in Blanco kan eersdaags uitsien na 'n raakrugbykliniek (touchies) saam met die span van Zeal Men's Movement en 'n spesiale kuiergas waarvan hulle nie nou al die identiteit wil bekendmaak nie.
Zeal is 'n nie-winsgewende Christelike beweging wat in 2018 op die been gebring is deur 'n groep plaaslike mans met die doel om uit te reik na mans en seuns in Blanco.
Van daar het die weeklikse raakrugby-oefening in Blanco sy oorsprong en saam met 'n groep jongmans van die omgewing speel die manne van Zeal elke Dinsdagaand om 17:00 raakrugby op die veld in Georgeweg.
Soms is daar soveel as 25 spelers op die veld. Dié oefening het gelei tot die idee van 'n kliniek met die doel om die spelers beter te bevoeg om eendag aan toernooie te kan deelneem.
"Ons kweek nou al lank aan die idee en hou op 4 September ons eerste kliniek as deel van ons uitreik na seuns en jongmans in die omgewing. Ons glo dat as jy die man kan verander jy 'n groot deel van die samelewing se probleme kan oplos," sê Zeal se voorsitter, Christiaan Blignaut.
Die spoedvraat, Ashaan Ahrends.
Zeal se leiergroep kom weekliks bymekaar om spanbou-aktiwiteite soos staptogte, kampe, uitreike en dies meer te reël.
"Vir my is Zeal-touchies een van die hoogetepunte van my week!" sê Zeal se Ampie Vorster.
Vorster is 'n lid van Zeal se leierskapgroep en die raakrugby is sy verantwoordelikheid. "Ons doel is om 'n eenheid te vorm en 'n platform te skep waar die ouens rugby toe sal wil kom om gesonde pret as 'n uitlaatklep te gebruik. Touchies is vir my 'n plek waar ek hoop om inspraak te maak in iemand se lewe en waar ons as manne mekaar kan ondersteun en verbeter in alle aspekte. Nelson Mandela het gesê,
"Sport has the power to change the world. It has the power to inspire. It has the power to unite people in a way that little else does. It speaks to the youth in a language they understand". En dit is my hoop, om eenheid met die manne te bou en sommer saam 'n paar toernooie ook wen," sê Vorster.
Fotogalery: Zeal Men's Movement speel raakrugby
Die groep spelers saam met Christiaan Blignaut (links), Ampie Vorster, Francois du Toit en MW Odendaal (almal van Zeal), wat by Dinsdagaand, 24 Augustus, se oefening was. Foto's: Kristy Kolberg
Zeal is tans in George gebaseer, maar die idee is om later uit te brei na ander dorpe en dele van die land.
Die kliniek wat op Saterdag 4 September op die sportgronde in Rooirivierrif plaasvind bied nie net 'n geleentheid vir die jongmans om te speel nie, maar daar sal ook motiveringspraatjies gelewer word, en die basiese raakrugbytegnieke sal bespreek word.
"Ons bied ons heel eerste kliniek aan en wil ons die seuns van die Blanco Storms-span beloon deur vir elkeen 'n opwarmingshemp te gee. Ons wil graag besighede en individue van George aan boord kry om hiermee, asook ander donasies, te help," sê Blignaut.
Enigiemand wat 'n bydrae wil lewer kan die webtuiste besoek.
Steven Bezuidenhout met die bal.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'