Gallery
GEORGE NUUS - Progress het Saterdagmiddag op die Rosemoor-sportterrein die Groot Uitdaagbeker-kompetisie van die Suid-Westelike Distrikte op 'n hoë noot afgeskop toe hy die jong span van Blanco met 57-3 afgeransel het. Rustyd was die wenspan reeds met 31-3 voor.
Die tuisspan, wat verlede jaar die kompetisie gewen het, het met aanskoulike hardlooprugby nege pragdrieë gedruk.
Swak dissipline het die besoekers duur te staan gekom. Die skeidsregter, Hermanus Lamprecht, wat die wedstryd goed gehanteer het, het vir Enrico Treurnicht (buitesenter), Roberto April (vaskopstut) en Justin Ruiters (plaasvervanger- skrumskakel) van Blanco, wat hul skuldig gemaak het aan gevaarlike hoogvatte, met geelkaarte van die veld gestuur.
Die tuisspan se linkervleuel, die 25-jarige Bradley Pietersen, het met sy driekuns die skare op hul voete gehad. Ethan Williams (regtervleuel), Cheslin Jafta (buitesenter) en Mzo Dyantyi (skrumskakel), het ook agterlangs uitstekende spel gelewer.
Voorlangs het Progress se nuwe aanwinste, die stutte, Hendrik Kriek en Leono Oosthuizen, vir Blanco laat kreun in die skrums. Hul flanke, Davon Raubenheimer, Ronaldo Baartman en Christo du Plessis (plaasvervanger-flank), het hulself goed van hul taak gewyt.
Die wenspan se drieë is gedruk deur Ethan Williams (2), Bradley Pietersen (3), Mzo Dyantyi, Davon Raubenheimer, Hendrik Kriek en Branton Booysen. Jade Roelfse slaag met 6 doelskoppe. Vir Blanco het Logan Stoffels met 'n strafdoel geslaag.
Barbarians het ses drieë gedruk in hul oorwinning van 33-26 oor Evergreens op die D'Almeida-sportterrein.
Mzoxolo Dyantyi val aan met die bal met Jonathan Simmons (met kopband) agter hom.
Wahlon Anthony, Kevin Taute, Ighsaan Petersen, Curtley Kiewiet en Jose Pietersen (2) is oor vir drieë vir die wenspan. Justin Bhana klits 2 doelskoppe oor.
Vir Evergreens het Gerschwin Muller (agtsteman, 2) Francois Kemp (flank) en Luciano James (regtervleuel) gaan druk. Chadley Stride (heelagter) slaag met 2 doelskoppe.
Hendry Wolhuter (losskakel) van Crusaders se skopskoen het vir Bridgton op die Parkdene-sportterrein gekelder.
Werner Jacobs (voor), Progress-kaptein, en Leono Oosthuizen (regs) keer 'n speler van Blanco voor.
Wolhuter het 14 punte, wat vier strafdoele en 'n doelskop ingesluit het, aangeteken in hul oorwinning van 19-16. Freginald Africa het die wenspan se enigste drie gedruk.
Hardus Coetzer (flank) en Ruhal Lewis (slot) is oor vir drieë vir Bridgton. Keanin Esau (skrumskakel) slaag met 2 strafdoele.
Groot-Brakrivier het in 'n naelbytstryd vir Maori's op die Heidedal-sportterrein met 12-10 geklop. Hyron Erasmus (regtervleuel) en Arden Lee Meyer (skrumskakel) het vir die wenspan gaan druk. Roshwin Abrahams (heelagter) slaag met 'n doelskop.
Vir Maori's is Selwyn Jacobs oor vir 2 drieë.
Ronaldo Baartman storm doellyn toe met die bal met sy spanmaat Ethan Williams wat sake dophou. Foto's Anton Gericke
Die nuweling in die kompetisie, Heidelberg, het op sy tuisveld die seisoen op 'n hoogtepunt afgeskop toe hy vir Silver Stars met 24-8 geklop het.
Corbyn Swartbooi (heelagter), Devor Lutz (binnesenter) en Gursh van Rooyen (linkervleuel) het die wenspan se drieë gedruk. Swartbooi slaag ook met drie doelskoppe en 'n strafdoel.
ARTIKEL: ANDRÉ STANDER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'