GEORGE RUGBY NUUS - Die lede van die Outeniqua-rolbalklub het tydens die algemene jaarvergadering by die ou suksesresep gebly deur bykans die hele bestuur van die vorige jaar onveranderd te herkies.
Die enigste verandering is dat Japie Combrink vir Matilda Champaud, wat nie weer beskikbaar was nie, as wedstrydsekretaris vervang. Drie nuwe addisionele lede, Terrence Wilson, Anri Fick en Elmarie Snyman, is ook gekies nadat die vorige addisionele lede, Das Barnard, Hendrik Barnard en Terry Enslin ook nie weer beskikbaar was nie.
Die bestuurslede is Greg Young (president), John Dampier (visepresident), Lyla Young (sekretaris), Phillip Hattingh (tesourier) en Dalene Fick (spyseniering).
Die herkiesing van die bestuur is duidelik 'n mosie van vertroue in die bestuurslede wat 'n baie suksesvolle vorige jaar ervaar het. Die klub het, volgens die finansiële verslag, 'n baie suksesvolle jaar gehad in weerwil van die kostes met die aanbou van 'n derde baan. Op kompetisievlak het die klublede ook uitstekend gevaar deur verskeie Eden-kampioenskapstitels in te palm. Die ledetal het ook 'n gesonde groei getoon. In sy jaarverslag het president, Greg Young, ook die klublede geloof vir hul lojaliteit en geesdrif wat die klub een van die topklubs in die streek gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'