GEORGE NUUS - Om verstaanbare redes loop Hoërskool Outeniqua breë bors rond. Twee van sy oudleerlinge, Duhan van der Merwe en Manie Libbok het in 'n internasionale rugbywedstryd gespeel.
Van der Merwe het vir die Britse en Ierse Leeus en Libbok vir die Haaie op Ellispark op Woensdag 7 Julie uitgedraf. Tydens die wedstryd het Libbok in 'n stadium hard probeer om Van der Merwe te keer tydens een van sy drieë, maar dit was nie suksesvol nie.
Die twee oud-Kwaggas was op verskillende tye in die skool. Van der Merwe het in 2013 sy skoolloopbaan daar voltooi en Libbok in 2015. Beide het in hul skooldae vir die skool se eerste span uitgedraf.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê beide spelers was reeds op skool goed in rugby.
Die skool is trots op hulle. Hy het verwag dat Libbok op provinsiale vlak sou speel en dat Van der Merwe dit nog ver sou bring.
"Duhan het gewys dat hy in daai klas is en hy is op meriete in die Britse en Ierse Leeus se span. Hy gebruik sy kanse. Ek hoop hy kry 'n kans in die Leeus se beginspan teen die Springbokke. Dit lyk of hy een van die uitblinkers in die span gaan wees."
Van der Merwe het reeds naam gemaak in die rooi trui. In die drie wedstryde wat hy vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het, het hy reeds vyf keer agter die doellyn gaan kuier.
In sy eerste wedstryd vir die span het hy 'n drie gedruk teen Japan op Murrayfield in Edinburgh, Skotland.
In sy eerste wedstryd in Suid-Afrika vir die Leeus teen die Haaie verlede Woensdag, 7 Julie, het hy drie keer die bal agter die doellyn gaan neersit. Boonop was hy die man van die wedstryd.
In verlede Saterdag, 10 Julie, se wedstryd weer teen die Haaie - die keer op Loftus Versveld in Pretoria - het hy nog 'n drie gedruk. Die Leeus en Britse Leeus het al die wedstryde gewen.
Duhan van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'