TUINROETE NUUS - Die lewe van Anton Moolman, die nuwe hoofafrigter van die SWD Arende, het baie vinnig verander.
Minder as 'n week gelede was hy nog by rugby afrigting in Frankryk betrokke en nou staan hy aan die stuur van die SWD Arende wat vanjaar in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks gaan meeding.
Die 51-jarige Moolman kom in die plek van Eddie Myners wat die Arende verlede seisoen afgerig het.
Myners was nie weer beskikbaar nie. Hy is nou die assistent-afrigter van die vroue Springbokrugbyspan en gee aandag aan die voorspelerspel.
Moolman het eers verlede Vrydag (4 Februarie) in Suid-Afrika aangekom. Sy eggenoot, Sasha, wat Engels in Frankryk gee, sou Woensdag by hom aansluit. Moolman was onder die 16 wat aanvanklik aansoek gedoen het en het later die kortlys van vyf kandidate gehaal.
Op Dinsdag 25 Januarie is 'n virtuele onderhoud met hom gevoer en hy het duidelik 'n goeie indruk op die keurpaneel gemaak. Hy is 'n aanbod gemaak en het dit op Vrydag 28 Januarie geteken. Afgelope Saterdag is hy amptelik aan die klubs en verteenwoordigers van SWD rugby bekend gestel.
Hennie Baartman, president van SWD Rugby verwelkom Anton Moolman, die nuwe hoofafrigter van die Arende.
Moolman het reeds 'n lang pad in die rugbywêreld geloop. In die verlede het hy Boland as 'n senter verteenwoordig. Hy het ook uitgebreide afrigtingsondervinding in Suid-Afrika en die buiteland.
In 2000 het hy uitgetree as speler uit profesionele rugby maar het voortgegaan om klubrugby te speel en ook afrigting te doen. Hy was onder meer afrigter van die WP se 0/21 span wat hul afdeling in 2007 gewen het. In 2008 het in staduim saam met Johann Lerm afgerig.
In 2014 het hy die WP se rugby akademie begin en hy was die direkteur daarvan. Aan die begin van 2019 het hy 6 maande in Amerika afgerig, maar het daarna na Frankryk gegaan na uitdagings rondom sy visum.
Volgens hom het hy 'n passie vir rugby . "Ek is 'n student van die spel en hou daarvan om rugby te praat." Rugby is 'n groot deel van sy lewe en het hom baie geleenthede gegee. Hy wou nog altyd iets teruggee.
Hy het aansoek gedoen vir die pos omdat hy dit as 'n geleentheid gesien het om na Suid-Afrika terug te keer na 'n streek met baie talent. Hy is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging.
Hy gesê SWD het nog altyd baie talent gehad. In die dae toe hy nog self gespeel het, het daar altyd baie opwindende spelers uit die streek gekom.
Op die vraag of die Arende vanjaar hul afdeling gaan wen het hy geantwoord: "Ek is van nature mededingend. Ek hou nie daarvan om te verloor nie."
Hy gaan waardes vestig wat prestasie dryf en het onderneem om na plaaslike talent te kyk. Daar moet gekyk word na wat beskikbaar is. Die kapasiteit sal na gekyk word en dan gekyk word hoe dit aangevul kan word om sukses te behaal.
Moolman het homself beskryf as 'n baie gedissiplineerde persoon wat dinge op sekere wyses doen. Die spelers is vir hom baie belangrik.
*Die Arende speel op 5 Maart op Swellendam teen Boland in 'n vriendskaplike wedstryd. Daar is ook die moontlikheid van 'n vriendskaplike wedstryd op 12 Maart teen die OP/Olifante. Die naweek van 25/26 Maart speel die Arende in sy eerste reeks wedstryd teen Georgië.
*Moolman is vir 'n twee jaar kontrak aangestel.
Hennie Baartman, president van SWD Rugby. Satredag saam met Grant Riddles. Benewens dat Riddles die burgemeester van Hessequa is, is hy ook by rugbya administrasie betrokke.
Reaksie
Hennie Baartman, president van SWD Rugby, het gesê hy is baie opgewonde oor die aanstelling. "Ons glo dis die regte keuse. Wat ek van hom hou is dat hy opgewonde is oor die werk. Hy sien uit na die werk. Hy is entoesiasties."
Volgens Baartman het die Arende laas in 2018 hul afdeling gewen. "Ons wil baie graag die jaar uitstekende rugby speel en 'n goeie span vestig. Ek dink Anton is die man."
Johann Lerm, 'n voormalige afrigter van die Arende wat Moolman ken en wat al saam met afgerig het, het gesê hulle was saam by Hamiltons in die Kaap betrokke. Moolman was toe die hulpafrigter. "Hy het baie hoë werksetiek en pas dissipline goed toe. Hy het ook 'n uitstekende kennis van die spel en hy kan dit goed oordra. Hy is 'n bate vir enige plek en sal 'n aanwins wees vir SWD rugby. Anton het 'n wil om te wen."
Anton Moolman, die nuwe hoofafrigter van die Arende word Saterdag bekend gestel. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'