RUGBY NUUS - Vir rugbyondersteuners in die Suid-Kaap wag daar 'n fees, want twee van Suid-Afrika se voorste spanne, die Stormers en die Haaie gaan einde September en vroeg Oktober op Outeniquapark in aksie wees.
Die spanne gaan die wedstryde wat hulle hier speel as voorbereiding gebruik vir die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) wat later vanjaar hervat word.
Die Stormers het verlede jaar die titel gewen, maar ongelukkig vanjaar vasgeval in die eindstryd in Kaapstad.
Verlede jaar in September het die Stormers in 'n opwarmingswedstryd vir die reeks teen 'n SWD-uitnodigingspan op Outeniquapark gespeel en die geleentheid was 'n groot sukses. Daar was nie plek vir 'n muis nie.
Anton Moolman, afrigter van die SWD Arende, het Maandag 7 Augustus bevestig dat die Stormers en Haaie in aksie gaan wees.
Op Vrydagaand, 29 September, speel SWD teen die Stormers. 'n Week later, op 6 Oktober speel die Stormers en Haaie teen mekaar.
In 'n voorwedstryd sal SWD teen 'n span van die Stormers speel wat gekies sal word uit die Stormersgroep. Dit is spelers wat nie vir die hoofwedstryd gekies is nie.
Moolman het gesê die wedstryde volg na die groot sukses van verlede jaar se Stormers-wedstryd.
John Dobson, afrigter van die Stormers het besluit om weer 'n Stormers-groep vir 'n oefenkamp na die Wilderness te bring.
Dit word gesien as voorseisoen voorbereidings. "Ons is baie bevoorreg om goeie verhoudinge met die Stormers te hê. Die wedstryde is waarskynlik die grootste in die 15-man kode van die afgelope 20 jaar op Outeniquapark."
Volgens Moolman is die wedstryde geleenthede vir die Stormers en die Haaie om te kyk na die volgende generasie van talent en vir spelers om hul kleim af te steek met die oog op die toekoms.
Moolman het benadruk die wedstryde is nie net 'n massiewe hupstoot vir die plaaslike ekonomie nie, maar ook vir rugby in die streek.
"Ons poog om vertroue te bou en terug te gee aan die gemeenskap. Ons gee plaaslike ondersteuners geleentheid om rugby op van die hoogste vlak op Outeniquapark te sien. Dis ook 'n geleentheid vir die jeug om hul helde in aksie te sien."
Uit die SWD Arende se oogpunt is dit 'n geleentheid om spelers bymekaar te bring en vir plaaslike spelers 'n geleentheid om hul talent teen die bestes te toets. Van die bestaande Arende-spelers speel nou vir van die klubs. Van die ander klubspelers sal ook oorweeg word. Die Arende hervat hul aktiwiteite weer amptelik op 1 November.
Die SWD-span sal 'n rukkie voor die wedstryde bymekaarkom. 'n Groep van sowat 30 spelers sal saamgestel word.
Hy het die versekering gegee die SWD-span sal mededingend in die wedstryde wees.
Op die oomblik is dit 'n tydperk vir hom om namens die SWD Arende te onderhandel en moontlike sluit van kontrakte met spelers te sluit met die oog op die nuwe seisoen.
Die twee geleenthede bied moontlikhede vir borge om betrokke te raak. Hulle kan SWD-rugby direk in die verband kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’