GEORGE NEWS - Toe CJ Stander Saterdagaand Munster se rugbyspan op die veld in George lei, sou jy ver moes soek om iemand so trots soos sy pa, Jannie Stander te kry.
Jannie, wat in die omgewing boer, was op Outeniquapark se hoofpawiljoen toe Munster teen die Southern Kings kragte gemeet het. CJ het Saterdag as Munster-kaptein uitgedraf en die Ierse provinsiale span het die Kings oortuigend met 39 punte teenoor 22 geklop.
Jannie het reeds vroeër met Munster se aankoms by die stadion vir CJ ingewag en hom sterkte toegewens vir die wedstryd.
Vir Jannie was dit amper asof CJ "huis toe" gekom het. CJ het grootgeword in die George-omgewing en het as 12-jarige seun laas op Outeniquapark uitgedraf. Hy het later sy rugbyloopbaan in Pretoria gaan voortsit. Deesdae speel hy vir Munster en Ierland.
Verlede week, kort na Munster se aankoms in George, het CJ na sy ouers se plaas naby George gegaan. Daar het hulle die aand sy 28ste verjaarsdag saam met vriende gevier.
"Ons het braaivleis saam met vriende gehou. CJ het vir my vooraf gesê: Pappa ek wil weer braaivleis eet."
Toe die span Saterdag by die stadion vir die wedstryd aankom was Jannie daar. "Gewoonlik bel hy my twee ure voor 'n wedstryd. Ons praat mekaar dan moed in. "Dit was lekker om hom dié keer self te sien en hom 'n druk en 'n soen te gee."
Munster-ondersteuners, wat al die pad van Ierland gekom het, bedank CJ Stander met 'n reusebanier op Outeniquapark.
Volgens Jannie was dit hartseer, maar ook aangenaam om weer vir CJ op Outeniquapark te sien. "Dit het my baie trots gemaak."
Oor die wedstryd sê Jannie hy was in 'n stadium bietjie bekommerd, maar later het sy senuwees gekalmeer toe hy sien Munster kry die oorhand.
Die pas afgelope kuiertjie was wonderlik. "Maar dit was net te kort," sê Jannie.
CJ is nog tot Saterdag in Suid-Afrika. Eers speel Munster Vrydag teen die Vrystaat in Bloemfontein. Saterdag keer Munster terug na Ierland. Jannie sal CJ eers weer in Junie sien. Dan kom CJ en sy eggenoot, Jean-Marie, op die plaas kuier. "CJ en ek gaan dan ook 'n bietjie jagveld toe."
ARTICLE & PHOTO: EUGENE GUNNING, GEORGE HERALD CORRESPONDENT
'We bring you the latest George, Garden Route news'