GEORGE NUUS - Johann Lerm, hoofarigter van die SWD Arende, is baie tevrede en opgewonde oor die SWD Arende Vodacomgroep wat hierdie week gefinaliseer is.
Die groep bestaan uit 21 gekontrakteerde spelers en die res (15) is klubspelers wat deur die Arende afrigtingkorps en die ander ama-teurafrigters van die unie in die Kus-, Karoo- en Langebergstreke van die SWD Rugbyunie geïdentifiseer is.
Geskiedenis word gemaak deurdat 26 plaaslike spelers in die groep ingesluit is. Slegs 10 spelers se oorsprong is van buite die SWD Rugbyunie se grense.
Die span word deur die nuweling Wilhelm (Palm) Koch aangevoer. Koch was die afgelope twee seisoene (2009 en 2010) die kaptein van die Luiperds in die Curriebeker-kompetisie. Hy was ook die kaptein van die Royal XV wat in 2009 teen die Britse Leeus gespeel het.
Gedurende 2007 en 2008 het hy vir die Goue Leeus in die Vodacom- en Curriebekerkompetisie gespeel en het ook die Leeus in die Super 14 verteenwoordig.
Bevin Fortuin, die vorige kaptein van die SWD Arende, is nie meer in die groep nie nadat hy ‘n kontrak wat die unie hom aangebied het, nie aanvaar het nie.
Die groep bestaan uit ‘n mengsel van jeug en ervaring.
Nuwe gesigte in die groep is Howard Noble (vleuel wat SA 7’s, Opkomende Springbokke, die Cheetahs, Sharks, Grens Bulldogs, OP Kings en die Griffons verteenwoordig het), Braam Immelman (losvoorspeler wat die WP, Sharks, Boland asook die SA 7’s verteenwoordig het. Hy het ook Super 14-rugby vir die Sharks in 2005 en 2006 gespeel) en Sewes Oosthuizen (vaskopstut wat die SA Skole-, SA Onder 19-span en die Griffons in 2009 en 2010 verteenwoordig het).
Ou gesigte wat weer hulle terugkeer maak tot die SWD Arende is die veteraan Connie Botha (loskopstut) wat, soos Os du Randt en Johan Ackerman, op 36-jarige ouderdom sy terugkeer tot eersterangse rugby maak. Botha hou die rekord vir die meeste wedstryde in ‘n SWD-trui deurdat hy in 177 tussen 1993 en 2005 uitgedraf het. Dean Hopp (haker en vaskopstut) wat die SWD Arende in 2002 en 2003 verteenwoordig het waarna hy ‘n draai in die OP en by Griekwas gemaak het voordat hy klubrugby vir SK Walmers in die WP gespeel het, is ook terug.
Van verlede jaar se staatmakers in die groep is Baldwin McBean, Ambrose Barends (voorste puntemaker in die eersteliga), Lyndon Hartnich, Lubabalo (Giant) Ntyanda, Henk Eksteen, Danzil Manuel, Hans Grobler, Anton van der Westhuizen, Deroy Rhoode, Wensley Scott, Marcell Potts, Eric Zana, Mzo Dyanti en Christo du Plessis.
Die bestuurspan is: Johann Lerm (hoofafrigter), Eddie Myners (hulpafrigter: voorspelers), Rynard van As (hulpafrigter: agterspelers en spanbestuurder), Innis Erasmus (fisioterapeut), Quinton Rall (kondisioneringafrigter) en Granville Carelse (spanbeampte).
Die volledige kontrakgroep van die SWD Arende vir die Vodacomreeks saam met die bestuurspan.
ARTIKEL EN FOTO'S: JANNIE MEYER