Gallery
RUGBY NUUS - Hard, taai en meedoënloos. Dit in 'n neutedop som die Premierliga-kragmeting verlede Saterdag in die Rosemoor-stadion tussen Progress en Crusaders op.
Progress het die wedstryd welverdiend met 29-22 gewen en gewys waarom hy die SWD se klubkampioenspan is.
Hoewel Crusaders vroeg toegeslaan en twee blitsdrieë gedruk het, het Progress koelkop gebly, soos wat van 'n wenspan verwag word, en geleidelik die druk opgebou om die agterstand in te haal. Dit spreek boekdele van sy karakter.
Crusaders het, soos sy eweknie van Nieu-Seeland, die pas van meet af aan voor- en agterlangs dik aangemaak. Veral sy balverspreiding na die agterspelers om blitsige aanvalle te loods, het Progress se verdediging soms oorhoops gehad.
Sy pak voorspelers het eweneens beïndruk met kraglopies deur sy twee kragstutte.
Ná rustyd het Progress die spel begin beheer en met goed beplande teenaanvalle vir Crusaders in trurat gehad.
'n Pluimpie vir albei spanne in die bulstryd was die goeie gesindheid waarin die wedstryd afgehandel is sonder enige noemenswaardige voorvalle.
En volpunte vir die mooi gees op die volgepakte pawiljoen.
Toe die Progress-ondersteuners luid begin sing, was dit neusie verby.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'