RUGBY NUUS - Die huidige beste o. 20-hamergooier in die Wes-Kaap, Chanelle Britz van Hoërskool Outeniqua, gaan in 2025 haar nuutgevonde passie vir rugby najaag nadat sy 'n volle beurs by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein ontvang het.
Volgens die Facebook-blad, Hamer Fokus, wat hamergooi in Suid-Afrika noukeurig volg, was Chanelle op Maandag 14 Oktober die 5de beste o. 20-hamergooier in Suid-Afrika en die beste in die Wes-Kaap met haar persoonlike beste afstand van 43,77m.
Op Saterdag 28 September het Chanelle by die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees se kompetisie goud gewen in die hamer-gooi (4 kg), diskus, gewigstoot (4 kg) sowel as spiesgooi afdelings.
Sy is ook elke jaar vanaf 2020 tot 2024 (gr. 8 tot 12) gekies vir die Atletiek Suid-Westelike Distrikte, Wes-Kaap asook Atletiek Suid-Afrika Jeug en Suid-Afrika Hoërskool Atletiek spanne.
Haar afrigter was Jacques Wolfaardt, die hoof van atletiek by Hoërskool Outeniqua.
Alhoewel Chanelle lank gedroom het om vir die Olimpiese Spele met haar gooie te kwalifiseer, is die droom met 'n nuwe een vervang toe sy in 2021 rugby ontdek het.
In dié Covid-jaar was daar weinig sport en sy het saam met Hoërskool George se meisierugbyspan op 'n oop veld begin oefen vir fiksheid.
Daar is haar potensiaal vir rugby deur die afrigter Shamark Pedro raakgesien en hy het haar genooi om by sy span aan te sluit.
In 2022 begin sy voluit vir Hoërskool George speel in die o. 16-liga teen spanne soos die Knysna Titans, Parkdene, Pacaltsdorp, Thembalethu en Aurial College in Oudtshoorn.
Toe Pedro sien hoeveel talent Chanelle het, het hy haar pa, Albertus, se arm gedraai om haar vir die SWD-rugbyproewe in te skryf.
"Aanvanklik wou ek nie, want ek was bang sy kry dalk seer en kan dan nie meer in die hamergooi kompeterend wees nie, want sy het die Olimpiese Spele in haar visie.
Hy was egter so aanhoudend dat ek ingegee het en daar kry Chanelle span sonder dat sy eens taktiese of tegniese rugbyoefeninge gedoen het," sê Albertus.
In haar eerste jaar van rugby in 2022 speel sy toe liga vir Hoërskool George en toer saam met die SWD-span na Welkom.
"Na 'n jaar van rugby het ek besef ek hou meer van rugby as hamergooi. Ek geniet dit meer om aan 'n spansport deel te neem want 'n individuele sport is baie meer stresvol.
Rugby is ook vir my 'n plek waar ek my emosies kan uitleef en ek hou ook van die familie-gevoel wat mens in rugby ontwikkel," sê Chanelle.
In 2023 word Chanelle weereens vir SWD-rugby gekies, maar die keer as onderkaptein van die o. 18-span wat na Johannesburg getoer het.
"Ek het glad nie verwag dat hulle my as onderkaptein gaan kies nie. Ek was verbaas en het besef ek moet leiding neem," sê sy.
Sy het dieselfde jaar ook Hoërskool George se o. 18-meisiespan verteenwoordig.
In 2024 speel sy weer vir die SWD o. 18-meisiespan in 'n toernooi in Johannesburg en dit was hier waar haar talente die oog van die Sentrale Universiteit van Tegnologie se afrigter, Thabo Chirwa, gevang het.
"Hy het gesê hulle soek haar as 'n groentjie vir hul universiteitspan met die oog daarop dat sy 'n rol kan speel in hul Varsitybeker-span. Ek het vir hom gesê ons het nie geld vir universiteit nie, maar toe sê hy hulle bied 'n volle beurs aan," sê Albertus.
Die pad lê nou oop vir Chanelle wat dieselfde toewyding aan haar rugby wil gee soos wat sy aan hamergooi gedoen het. Sy sê sy wil graag eendag vir Nieu-Seeland speel want hulle speel harde rugby en die haka is ook baie inspirerend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’