RUGBYNUUS - Rugbytoeskouers is slaggereed vir groot klubrugby die naweek, waar plaaslike spanne in die SWD Premierliga op die spyskaart is.
Een daarvan is die wedstryd tussen Blanco en Crusaders in Parkdene waar sommige voorspel dat Crusaders dalk hul tweede nederlaag vir die seisoen sal ly.
Ander meen weer die wedstryd kan enige kant toe gaan.
Darren Fortuin, heelagter van Blanco, sal Saterdag aan Crusaders wil wys watter leemte hy in Parkdene agtergelaat het.
Ek voorspel Crusaders sal hierdie kragmeting net-net deurhak, bloot weens die feit dat hulle diepte in hul span het wat enige teenstanders sal laat sidder. Toeskouers kan vir seker hul gazebos gaan uitsit, terugsit op hul kampstoele en ‘n riller van ‘n stryd aanskou.
Net anderkant die treinspoor kom Bridgton te staan teen ‘n gekweste Progress op die Rosemoor-sportterrein. Bridgton het in die eerste ronde van die liga koning gekraai in sy agterplaas. ‘n Wedstryd waar die skare letterlik elke minuut van die twee helftes beleef het. Die voorspelling in hierdie wedstryd is eenvoudig, die span wat die volle 80-minute kan volhou, sal seëvier. Progress wen hier met minder as 10 punte. Tuisvoordeel sal Progress bo uit bring.
Die derby tussen Barbarians en Groot-Brakrivier in Mosselbaai gaan beslis een wees vir die boeke. Barbarians beleef tans ‘n wipplank-seisoen, terwyl Groot-Brak hul sterte in die lug rondswaai, maar dit gaan nie die uitslag van hierdie wedstryd bepaal nie. Hierdie twee spanne verskaf ‘n tipiese Barcelona en Real Madrid gevoel onder toeskouers. Roshwin Abrahams, heelagter van Groot-Brak sal definitief ‘n kopseer vir die span van Mosselbaai wees.
Shane Vaughn, oopkant flank van Barbarians, is by verre die beste speler op meriete vir die Baabaas-span en sal sy span ten alle koste op die voorvoet wil hou met sy kenmerkende kraglopies. ‘n Wedstryd wat op ‘n droë veld enige kant toe kan gaan. My voorspelling is dat Brak hierdie een sal wen. Wen momentum is maar altyd ‘n pluspunt wanneer dit kom by derbies.
Evergreens reis Saterdag na Plettenbergbaai vir hulle wedstryd teen Jaguars. Die besoekers, voorspel ek, gaan te sterk wees vir die belowende Crags-span. Jaguars, wat tot dusver net twee uit hul 12 wedstryde kon wen, sal net soos Maoris vir die eerste 20 tot 30min weerstand kan bied.
Jade Stoffels is loshande die anker in Evergreens-afrigter, Eddie Myners ,se vyftiental. Jade Stoffels presteer die hele seisoen nog puik en hierdie naweek sal geen uitsondering wees nie. Skare, verwag maar ‘n hoë tempo wedstryd wat soms in ‘n eenrigtingverkeer kan ontaard. Evergreens wen hierdie een baie gemaklik.
In ander wedstryde hierdie naweek verwelkom Maoris die span van die Hessequa-streek, Heidelberg, in Borcherds by Heidedal Primêr. Heidelberg kom beslis om hierdie een te wen. Die kollig sal feitlik vir die volle 80 minute op die buitesenter en kaptein van Heidelberg, Francois Pieters, wees. Pieters speel tans sy beste rugby en sal ‘n deurslaggewende rol speel in die uitslag van die wedstryd.
Op Outeniquapark gaan George met Riversdal Blues kragte meet. Kan mens waag om ‘n wenner uit hierdie kragmeting te kies? Beide spanne het hierdie seisoen ‘n verloorkultuur aangekweek, albei sal spook om ‘n wen. George het die tuisvoordeel en dit behoort die verskil in hierdie kragmeting te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’